The Wayback Machine - https://web.archive.org/web/20080508193903/http://www.sentrum.co.za:80/Taal_in_Tyd_naam.html

 

Terug 

 

 

CABO DE GOEDE HOOP: VAN PLEKKE EN MENSE

 

Helena Liebenberg

 

 

Deel van die voorreg om by die TANAP-projek betrokke te wees, is die groot bonus van plekke en mense wat hulle op byna elke bladsy vrywillig kom aanmeld, kontant bekend stel en daarna sommer spontaan ’n eie(soortige) verhaal begin vertel. Met die draai en druk van die veerpen loop vloei vertellings saam met die ink op die groot roomkleur blaaie uit – soms word die storie vertel in ’n swierige krulskrif afgerond deur pragtige randpatroontjies, ander kere is verbleikte letters die enigste toegang tot ’n gebeurtenis. Plekname is nie los te dink of te doen van mense nie, want die toekenning van ’n raaksê-naam is onteenseglike bewys dat iemand reeds daarlangs geloop, waargeneem en toe sy staning benoem het.

 

Cabo de Goede Hoop is ongetwyfeld die pleknaam wat die meeste in die Resolusies (1744-1795) voorkom. Hoewel die goeie hoop nooit in dié pleknaam beskaam nie, is daar wel enkele variasies op die Kaap se tema: benewens die vreemdtalige Cabo kom dan en wan ook Caap voor en later (dit is nou die laaste paar jaar toe die Kaap nog Hollands was – voor die Engelse oorname) word ook Kaap geskryf. Die heel ou Portugese benaming Cabo Tormentoso, Kaap van Storms, is vervang met die veel positiewer Cabo de boa Esperance nadat die seevaarders besef het watter moontlikhede die vaart om hierdie Suiderpunt handelsgewys en andersins ingehou het. Later het dit gedeeltelik vernederlands tot Cabo de Goede Hoop. Hierdie vesting het ook ter plaatse bekend gestaan as uithoek en die Vlek, wat in die Resolusies sowel dorp as stad genoem is.

 

Benewens hul klipkruise het die Portugese ook heelwat plekname aan die Suider-Afrikaanse kus agtergelaat, soos onder andere Saldanhabaai, Kaap Infanta, Malgas en St. Helena (lg. deur João da Nova benoem). Hoewel daar op die oor af geen sweem van taalvreemdheid in die pleknaam Tafelberg is nie, is dit inderdaad ’n vertaling van die Portugese Taboa do Cabo wat in 1503 deur die Portugese admiraal, Antonio de Saldanha, so benoem is.

 

Bartholome Dias was die eerste Europeër om in te vaar by dié baai wat later as Mosselbaai bekend sou raak. Vir Dias en ander vroeëre Portugese seevaarders was die standhoudende fontein naby die strand ’n uiters waardevolle varswaterbron. In 1497 noem Vasco da Gama dit Aguada de São Bras. In 1500 het Pedro d’Ataide met dit wat van sy vloot oorgebly het na ’n vernietigende storm, gaan skuiling soek in die baai. Hy plaas ’n brief met die verslag oor die ramp in ’n ou skoen wat hy aan ’n melkhoutboom gehang het. João da Nova besoek Mosselbaai ’n jaar later en kry die boodskap in die skoen. Die Posboom wat baie lank vir daardie doel gebruik is, is vandag ’n historiese monument. Tydens sy verblyf het Da Nova Suid-Afrika se eerste kerk gebou. Hy sien die Khoina met hul beestroppe naby die baai en noem dit Golfo dos Vaqueiros ‘baai van herders’. In Julie 1601 noem die Nederlander Paulus van Caerden dit Mosselbaaij, omdat hy hier mossels in oorvloed gekry het om sy skip se kosvoorraad aan te vul. Daar is vandag nog die Sekondêre Skool São Bras, die plek Kaap St. Blaize en die woongebiede Da Nova en D’Almeida, laasgenoemde vernoem na die Portugese ontdekkingsreisiger Francisco d’Almeida (1450–1510), onderkoning van Portugees-Oos-Indië, wat op 1 Maart 1510 saam met 55 van sy manskappe naby die Kaap in ’n aanval gedood is.

 

Bekende name soos Paardeneiland, Tijger Cloof, Wagenmakers Valleij, Raapenberg (aanvanklik Plaatse Raapenburgh), Liesbeekrivier, Vergelegen, Meerendal en Robbeneiland om maar enkeles te noem, is in hul wese onmiskenbaar Nederlands van oorsprong. Hier en daar het die name verafrikaans, maar tot op hede het hierdie deel van ons erfenis in ’n groot mate ongeskonde gebly. Vervolgens word na slegs enkele van die groot hoeveelheid sodanige plekname in die voormalige Collonie verwys.

 

Die hedendaagse Rondebosch, wat in die 18e eeu onder andere as ’t Ronde bos, Rondebosje en Ronde bossie geskryf is, het inderdaad verwys na ’n digte doringbos wat in Van Riebeeck se tyd op die wal van die Liesbeekrivier gegroei het. Die doringbos is in die middel uitgekap, daar is ’n opening gemaak wat met ’n hek gesluit het en hierdie Ronde bosje is gebruik as ’n veilige kraal vir die Kompanjie se vee.

 

In die VOC-tyd was ’n bottelary die voorraadruim op ’n skip – nie net bottels is daar geberg nie, maar ook al die ander kos wat tydens die reis benodig is. Hierdie woord vind ook op land sy plek om te verwys na die streek in die omgewing van die Bottelary-berg in die Stellenbosch-distrik. Dit is ook gespel as Bottelereij (1751). Vandag nog is dit die naam van die pad tussen Klapmuts en Kuilsrivier. Hierdie gebied was in daardie jare waarskynlik die enigste plek aan die Kaap waar wilde hawer so geil gegroei het. Die Kompanjie het daar ’n skuur laat bou vir die opberg van dié hawer wat een maal per jaar daar met sekels en sense afgesny is. Dan is dit aangery na die Kasteel as voer vir die Kompanjie se perde.

 

Op die grootpad vanaf Kaapstad, kom ’n mens duskant Swellendam die naambord Vaandrigsdrift by ’n afdraaipad na links teen. Hierdie plek wat by die Hessequas-kloof op pad na Swellendam geleë is, is genoem na Vaandrig Aúgúst Frederik Beútler wat ’n aantal baie interessante baanbrekersreise onderneem het. Uit die volgende aanhaling blyk duidelik wat in 1752 alles benodig is toe daar vir hierdie binnelandse ekspedisie beplan is:

 

"Op 1 Febr. 1752 ... deese binnenwaarts Leggende Landen, ... eenigen handel met voordeel voor d’ E. Comp. ... Begin der aanstaande maand Maart ... onder het Commando van den Vaandrig Aúgúst Frederik Beútler sal worden úijtgezonden .... Twee Sergeants, Vier Corporaals, Een Tamboer, Dertig Zoldaaten ... Voorts den Adsistent Carel Albregt Haúpt om den Dag Register te hoúden ... den Onderstúúrman Pieter Clement en den Landmeeter en Caarte maaker Carel David Wentzel ... den Onderchirúrgijn Jan Hendrik van Ellewe, Een Botanicús, Een Smit, Een wagen maker. En eijdelijk den Onder Baas van de Schúúr Hendrik Beeneke met vijff en Twintig zoo waagen Rijders als Leijders ... Elf waagens ... mitsgad:rs nog van een Schúijt, dienende om over de Onwaadbaare Riviere te kúnnen koomen. ... aan de Menschen onder dit commando gehoorende, om dezelve in Staat te Stellen, Sig tot het doen van die Togt te kúnnen úijtrústen, Twee maanden gagie Súllen verstrekt worden." In latere dokumente word verslag oor die bevindinge van hierdie ekspedisie gedoen. Dié pleknaam beslis, en waarskynlik Bottelierskop naby Klein-Brakrivier in die Suid-Kaap is na Vaandrig Beútler vernoem. Bottelier sou dan ’n vervorming van Beútler wees.

 

Vaandrigsdrift is ook geleë naby die plek waar die eerste pont of ponton, in gebruik geneem is. Dié pont sou aangewend word op die plek waar die Zonder End Rivier in die Breede Rivier vloei. Dit sou ’n oplossing bied vir die trekpad wat baie moeilik begaanbaar was, in so ’n mate dat die diere se pote heel "verkreupelt" geraak het tydens die reis deur die onherbergsame gebied; daarom die besluit deur die Kompanjie om ’n pontdiens in te stel. Die Pontonhoúder het die plaas Potjes Craal ontvang. Toggangers wat steeds landwaarts wou reis, het net soos vroeër die plaas Klúijtjeskraal as deurgangsroete gebruik.

 

In 1757 ken die Kompanjie na ’n skriftelike versoek deur die burgeres Catharina Pasman, weduwee van Philip Morkel, die volgende eiendom aan haar toe: "... Seekere Veeplaats die deselve al eenigen tijd van d’ E: Compagnie in Leening heeft beseeten gehad, genaamd D’ Ezelsjagt, geleegen aan ’t Rievier Sonder eijnd, mits verpligt blijvende, om behalven de jaarlijxe Recognitie van Vier en Twintig Rijxdaalders, nog de Somma van Tagtig Rijxdaalders eens tot erkentenisse aan d’ E: Compagnie te moeten betaalen." Die volgende leenplase is slegs enkeles van dié wat tussen 1744 en 1759 toegeken is: Helder Fonteijn (Riebeecks Casteel), Diemers Viscúijl (Tijgerbergen), geelbecke Fonteijn (agter de groene cloof naar de kant van de Saldanhabaaij), S:t Helena Baaij en de karssefonteijn (over de Bergrivier), De Brandwagt (onder de Attacqúas Cloof onder de Goúrits Rivier) en Klipheuvel (in ’t Swartland).

 

In die Resolusies kom plekname uit die Ooste ook dikwels voor, soos onder andere de Cust van Malabar, Bengale, Malacca, Padang, Boegis, Ambon en Pattena. Gedagtig aan ons eie Macassar waar Scheg Yusuf as banneling by " ... de sogenaamde Macassers Dúijnen agter de Búffels Valleij ... " (1757) gewoon het, die volgende oor Macassar in die Ooste, wat inderdaad dié geestelike se plek van herkoms was: In 1512 doen die Portugese daar aan en rig later ’n fort op. In 1667 word dit deur die Nederlanders beset en die fort heet toe Rotterdam. Macassar was ’n belangrike Nederlandse handelsentrum. Tans is dit hoofstad van die Suid-Sulawesi Provinsie, Celebes-Eiland, Indonesië.

 

Die pleknaamverhaal word afgesluit met Manúel Thúart [van] de Caste Parúa (Ndl. paria ‘lid van die laagste volksklasse’, ook ‘verworpeling, onaantasbare’) van Tútúcorijn, oor wie daar op 18 Februarie 1755 in die Resolusies berig is. Tuticorin is ’n dorp geleë in Suid-Tamil Nadu, Suid-Indië, aan die Golf van Mannar, Suid van Madurai. Dit is in 1540 deur die Portugese beset, maar in 1658 deur die Nederlanders oorgeneem.

 

Die verhaal lui soos volg: Die skip die Deúnisveld het digby die kiel aan stuurboord ’n Lekkagie ontwikkel en die amptenare belas daarmee was bekommerd hoe dit herstel kon word. Hulle besef dat hulle die diens van "een bequaam Dúijkelaar" benodig om onder water ondersoek na die lekplek te gaan instel. Hulle onthou toe van Manúel Thuart "dewelke als Bandiet in ’s Comp:s Slaaven Logie alhier beschyden is, en voormaals Lange Jaaren het dúijken by de Parel visserij te Tutucorijn heeft verrigt". Manúel Thuart is opgespoor en "heeft zig denselven op den 12: en 13: deeser tot Seeven distincte Reijzen onder ’t waater begeeven en telkens 5: a 6: minúúten onder gebleeven zijnde het Schip aan beyde zijden besien".

 

Na noukeurige ondersoek onder water, het die duiker berig dat daar slegs ’n skeur was wat van binne die skip herstel kon word. Geen verdere skade is aangemeld nie. Nadat die lekplek toegesmeer en sodanig geseël is, is verklaar dat die skip in veiligheid die reis na Batavia kon hervat. Omdat Manúel Thuart die "geordonneerde Visitatie met de úijtterste ijver en vigilantie heeft ter úijtvoer gebragt" het die Raad besluit dat hy nie langer as bandiet sy algemene werk hoef te doen nie, maar dat hy as lid van die ekspedisie wat "met het hier permanente Scheepje Schuijlenbúrg ... na de Contanten en andere goederen van ’t verongelukte Schip Breedenhoff te soeken van veel nút en dienste soude kúnnen zijn". Goewerneur Rijk Túlbagh het ingestem dat Thuart 30 Ryksdaalders as vergoeding ontvang. (Dit was gelykstaande aan 7½ maande se salaris van ’n matroos; of aan so 15 skape (wat maklik te kry was) of om en by 15 komberse (wat baie skaars was) .)

 

Die ekspedisie het toe vertrek na Delagoabaai waar die voormalige Lourenco Marques, die huidige Maputo, in Mosambiek geleë was. Delagoabaai, genoem na die Rio (rivier) de la Goa, is in 1502 deur die Portugese ontdek. Die omliggende gebied is in 1544 deur Lourenço Marques besoek. Vanaf 1721 tot 1730 was daar ook ’n VOC-handelspos, genaamd Post Lijdsaamheijd.

 

Die Schip Breedenhoff het vir maande in Delagoabaai voor anker gelê. In die Resolusie van 10 Februarie 1756 staan geskryf: "De Joúrnalen gehoúden bij den Schipper Hans Harmensz: en Commies Dirk Westerhof nopens derselver verrigtingen met het Scheepje Schúijlenbúrg so op de kust van Mosambicque als ter dier Plaatse Selfs ter bemagtiging der verlooren Contanten en verdere goederen van ’t verongelukte Schip Bredenhof ... de gesegde Expeditie op Mosambicqúe door de in voorseyde Joúrnalen aangehaalde onvermeydelyke Oorsaaken genoegsaam Vrugteloos is úijtgevallen."

 

Later het die skip toe na die Ooste vertrek. Van die bemanning het wel in Ceylon aangekom, dog sonder die kiste silwer wat aanvanklik aan boord was – dié kosbare vrag is nooit gevind nie.

 

In die Resolusies en ander dokumente uit die VOC-tydperk lê daar nog ’n baie groot vrag met naamskatte wat wag om geberg te word, waaronder ’n hele paar kiste gevul met ’n rykdom van Khoina-plekname. Maar dít regverdig ’n reis op sigself.

 

(’n Verkorte artikel verskyn in KultuurKroniek, Die Burger, 20 April 2002)