Gaan na inhoud

Sydney

Koördinate: 33°51′54″S 151°12′34″O / 33.86500°S 151.20944°O / -33.86500; 151.20944
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Sydney
Stad
Vlag van Sydney
Vlag
Wapen van Sydney
Wapen
Ligging van Sydney in Australië
Ligging van Sydney in Australië
Sydney is in Nieu-Suid-Wallis
Sydney
Sydney
Ligging van Sydney in Nieu-Suid-Wallis
Koördinate: 33°51′54″S 151°12′34″O / 33.86500°S 151.20944°O / -33.86500; 151.20944
LandVlag van Australië Australië
DeelstaatVlag van Nieu-Suid-Wallis Nieu-Suid-Wallis
Administratiewe verdelingPlaaslike regeringsgebiede
Gestig op26 Januarie 1788
Regering
 • BurgemeesterClover Moore
Oppervlak
 • Totaal12 367,7 km2 (4 775,2 vk. myl)
Bevolking
 • Totaal5 557 233
 • Digtheid406,7/km2 (1 053,3/vk. myl)
TydsoneUTC+10:00 (Australiese Oosterse Standaardtyd)
 • SomertydUTC+11:00 (Australiese Oosterse Somertyd)
Webwerfcityofsydney.nsw.gov.au

Sydney (Engels: [ˈsɪdni], ) is die hoofstad van die deelstaat Nieu-Suid-Wallis in Australië en is die grootste en oudste stad in daardie land. Dit het 'n bevolking van meer as 5,5 miljoen (2024) en word dikwels as die hoofstad van Australië beskou, hoewel dié eintlik Canberra is.

Daar is min stede wat op so 'n presiese stigtingsdatum kan roem of so 'n kort en dramatiese geskiedenis soos Sydney het.[3] Op 18 en 26 Januarie 1788 het elf Britse skepe, wat vandag as Die Eerste Vloot (The First Fleet) bekend staan, met sowat 1 000 mense aan boord in Sydney se Botanybaai anker gegooi. Meer as 700 van hulle was gevangenes wat onder bevel van kaptein Arthur Phillip na Australië gedeporteer is.

Ingevolge die destydse Georgiaanse regstelsel is die doodstraf dikwels selfs vir klein oortredings opgelê. Sydney se eerste inwoners was dus nie noodwendig kriminele in die huidige betekenis van die woord nie, maar eerder arm skepsels wat tot deportasie "begenadig" is vir oortredings soos die onwettige pluk van komkommers in 'n vreemde tuin of die diefstal van 'n sakdoekie.[4]

Etimologie

In 1788 het kaptein Arthur Phillip, die eerste goewerneur van Nieu-Suid-Wallis, die inham waar die eerste Britse nedersetting gestig is Sydney Cove genoem na die minister van binnelandse sake, Thomas Townshend, 1ste Viscount Sydney.[5] Die inham is deur die Aborigines van Warrane genoem.[6] Phillip het dit oorweeg om die nedersetting Albion te noem, maar dié naam is nooit amptelik gebruik nie.[5] Teen 1790 het Phillip en ander amptenare gereeld na die stad verwys as Sydney.[7] In 1842 het Sydney amptelik stadstatus verkry.[8]

Die Gadigal-stam, wie se grondgebied langs die suidelike oewer van Port Jackson van South Head tot by Darling Harbour strek, is die tradisionele eienaars van die grond waarop die Britse nedersetting aanvanklik gevestig is, en noem hul gebied Gadi. Aborigines-stamname in die Sydney-streek is dikwels gevorm deur die agtervoegsel "-gal" by 'n woord te voeg wat die naam vir hul grondgebied, 'n spesifieke plek in hul gebied, 'n voedselbron of totem aandui. Groter Sydney streek oor die tradisionele lande van 28 bekende Aborigines-stamme.[9]

Geskiedenis

Eerste inwoners van die streek

Houtskooltekening van kangaroes in Heathcote- Nasionale Park

Die eerste mense wat hulle in die gebied van die huidige Sydney gevestig het, was Aborigines wat van Suidoos-Asië via Noord-Australië migreer het.[10] Gevlokte klippies wat in Wes-Sydney se gruissedimente gevind is, kan daarop dui dat mense hulle reeds tussen 45 000 tot 50 000 jaar gelede in die gebied gevestig het,[10] terwyl radiokoolstofdatering menslike aktiwiteite vir sowat 30 000 jaar gelede bevestig het.[11] Voor die aankoms van die Britte was daar tussen 4 000 tot 8 000 Aborigines in die Groter Sydney-streek.[12][13]

Die inheemse mense het bestaan gemaak van vissery, jag en die versameling van plante en mossels. Die mense se kos langs die kus was meer afhanklik van seekos, terwyl die mense in die hinterland meer wouddiere en plante geëet het. Die stamme het kenmerkende toerusting en wapens meestal vervaardig uit klip, hout, plantmateriale, bene en skulpe. Hulle het ook verskil in hul liggaamsversierings, haarstyle, liedere en danse. Aborigines-stamme het oor 'n ryk seremoniële lewe beskik as deel van 'n geloofstelsel wat gegrond was op voorvaderlike, totemiese en bonatuurlike wesens. Mense van verskillende stamme en taalgroepe het bymekaargekom om aan inisiasies en ander seremonies deel te neem. Hierdie geleenthede het handel, huwelike en stamalliansies bevorder.[14]

Die vroegste Britse setlaars het die woord Eora opgeteken as 'n inheemse term wat óf "mense" óf "van hierdie plek" beteken.[15][13] Die stamme van die Sydney-omgewing het op grond met tradisionele grense gebly. Daar is egter 'n debat daaroor aan watter groep of nasie hierdie stamme behoort het en die omvang van verskille in tale en rituele. Die belangrikste groepe was die Eora-volk langs die kus, die Dharug (Darug) in die binneland van Parramatta tot die Blue Mountains en die Dharawal-volk suid van die Botanybaai.[13] Darginung- en Gundungurra-tale is aan die rand van die Sydney-gebied gepraat.[16]

Die eerste ontmoeting tussen Aborigines en Britse ontdekkingsreisigers was op 29 April 1770, toe luitenant James Cook by Botanybaai voet aan wal gesit (Kamay[17]) en die Gweagal-stam teëgekom het.[18] Twee Gweagal-mans het die landingsparty teëgestaan en een is geskiet en gewond.[19][20] Cook en sy bemanning het vir een week by Botanybaai gebly en water, hout, voer en botaniese monsters versamel en die omgewing verken. Cook het sonder sukses verhoudings met die Aborigines probeer aanknoop.[21]

Strafstad (1788–1840)

"Die stigting van Australië, 26 Januarie 1788, deur kaptein Arthur Phillip R.N., Sydney Cove, skildery deur Algernon Talmage
Thomas Watling se skildery Uitsig oor Sydney Cove, ca. 1794–1796

Brittanje het amper die hele 18de eeu sy veroordeeldes na sy Amerikaanse kolonies verban, maar dié verlies van dié kolonies in 1783 het aanleiding gegee tot die stigting van 'n strafkolonie by Botanybaai. Voorstanders van 'n kolonisasie het ook die strategiese belang van 'n nuwe basis in die Asië-Stille Oseaan-streek beklemtoon en sy potensiaal om broodnodige hout en vlas aan die vloot te voorsien.[22]

Die Eerste Vloot bestaande uit elf skepe onder bevel van kaptein Arthur Phillip het in Januarie 1788 by Botanybaai aangekom. Dit het uit meer as 'n duisend setlaars bestaan, waaronder 736 veroordeeldes.[23] Dié vloot het gou na die meer geskikte Port Jackson geseil waar by Sydney Cove op 26 Januarie 1788 'n nuwe nedersetting gestig is.[24] Die kolonie Nieu-Suid-Wallis is op 7 Februarie 1788 formeel geproklameer deur goewerneur Phillip. Sydney Cove het oor 'n varswatervoorraad en 'n veilige hawe beskik wat Philip beskryf het as "die beste hawe in die wêreld … Hier kan 'n Duisend Seil van die Lyn ry in die mees volmaakte Sekuriteit".[25]

Die nedersetting is beplan as 'n selfversorgende strafkolonie gebaseer op bestaansboerdery. Handel en skeepsbou is verbied om die veroordeeldes geïsoleerd te hou. Die grond rondom die nedersetting was egter swak en die eerste gewasse het gevrek wat gelei het tot etlike jare se hongerly en streng rantsoenering. Die voedseltekort is verlig met die aankoms van die Tweede Vloot in middel-1790 en die Derde Vloot in 1791.[26] Voormalige veroordeeldes het klein toelaes grond ontvang en beide regerings- en privaat boerderye het uitgebrei na die meer vrugbare grond rondom Parramatta, Windsor en Camden op die Cumberland-vlakte. Teen 1804 was die kolonie selfversorgend met voedsel.[27]

In April 1789 het byna die helfte van die streek se inheemse bevolking aan 'n pokke-epidemie beswyk.[13][28] In November 1790 het Bennelong 'n groep oorlewendes van die Sydney-stamme gelei na die nedersetting, waarmee hy 'n volgehoue teenwoordigheid van inheemse Australiërs in die gevestigde Sydney tot stand gebring het.[29]

Phillip het geen instruksies vir stedelike ontwikkeling gegee nie, maar in Julie 1788 het hy 'n plan vir die nuwe stad by Sydney Cove voorgelê. Dit het 'n breë sentrale laan, 'n permanente staatshuis, howe, 'n hospital en ander openbare geboue ingesluit; geen voorsiening is egter gemaak vir pakhuise, winkels of ander kommersiële geboue nie. Phillip het onmiddellik sy eie plan geïgnoreer en onbeplande ontwikkeling het 'n kenmerk in Sydney se topografie geword.[30][31]

Ná Phillip se vertrek in Desember 1792 het die kolonie se militêre amptenare grond begin verkry en verbruikersgoedere van besoekende skepe ingevoer. Voormalige veroordeeldes het in handel betrokke geraak en klein besighede gestig. Soldate en voormalige veroordeeldes het huise op kroongrond in die huidige Sydney opgerig, beide met of sonder amptelike toestemming. Goewerneur William Bligh (1806–08) het beperkings ingestel op handel en die afbreek van geboue op kroonland bevel, insluitend sommige wat deur voormalige en dienende militêre offisiere besit is. Die daaropvolgende konflik het gelei tot die Rum-rebellie in 1808, waartydens Bligh deur die Nieu-Suid-Wallis Korps afgesit is.[32][33]

Goewerneur Lachlan Macquarie (1810–1821) het 'n leidende rol gehad in die ontwikkeling van Sydney en Nieu-Suid-Wallis, 'n bank en 'n hospitaal gestig, asook 'n geldeenheid ingevoer. Hy het 'n beplanner aangestel om Sydney se straatuitleg te ontwerp en opdrag gegee om strate, werwe, kerke en openbare geboue op te rig. Die Parramattapad wat Sydney met Parramatta verbind, is in 1811 geopen,[34] en 'n pad oor die Blue Mountains is in 1815 voltooi, wat die weg gebaan het vir grootskaalse boerdery en weiding wes van die Groot Skeidingsgebergte.[35][36]

Ná die vertrek van Macquarie het die amptelike beleid die emigrasie van vrye Britse setlaars na Nieu-Suid-Wallis aangemoedig. Die immigrasie na die kolonie het van 900 vrye setlaars in 1826–30 tot 29 000 in 1836–40 gestyg, waarvan baie hulle in Sydney gevestig het.[37][38] Teen die 1840's het Sydney 'n geografiese skeiding getoon tussen arm en werkersklasbewoners wes van die Tenkstroom in gebiede soos The Rocks en die meer welgestelde inwoners oos daarvan.[38] Vrye setlaars, vrygebore inwoners en voormalige veroordeeldes het nou die oorgrote meerderheid van Sydney se bevolking verteenwoordig wat gelei het tot toenemende publieke agitasie vir verantwoordelike regering en 'n einde gebring het aan vervoer. Vervoer na Nieu-Suid-Wallis is in 1840 gestaak.[39]

Konflik op die Cumberland-vlakte

Die gevangene-opstand op Castle Hill in 1804

In 1804 het Ierse veroordeeldes sowat 300 rebelle in die Castle Hill-rebellie aangevoer en probeer na Sydney opruk, 'n skip oorneem en na vryheid seil.[40] Swak bewapen en nadat hul aanvoerder Philip Cunningham gevange geneem is, is die hoofgroep opstandelinge by Rouse Hill deur ongeveer 100 troepe en vrywilligers verdryf. Minstens 39 veroordeeldes is in die opstand en daaropvolgende teregstellings dood.[41][42]

Namate die kolonie na die meer vrugbare grond rondom die Hawkesburyrivier, noordwes van Sydney, uitgebrei het, het die konflik tussen die setlaars en die Dharug vererger en tussen 1794 en 1810 sy hoogtepunt bereik. Dharug-bande, aangevoer deur Pemulwuy en later deur sy seun Tedbury, het in 'n patroon van weerstand gewasse verbrand, vee gedood en setlaarswinkels oorval; met die verdere uitbreiding van die koloniale grense het hulle dit herhaal. 'n Militêre garnisoen is in 1795 by die Hawkesbury opgerig. Die dodetal van 1794 tot 1800 het 26 setlaars en tot 200 Darug beloop.[43][44]

Van 1814 tot 1816 het 'n nuwe konflik uitgebreek ná die kolonie se uitbreiding na die Dharawal-land in die Nepean-streek suidwes van Sydney. Ná die dood van verskeie setlaars het goewerneur Macquarie drie militêre afdelings na die Dharawal-land ontplooi wat gelei het tot die Appin-bloedbad in April 1816 waartydens minstens 14 Aborigines vermoor is.[45][46]

Koloniale stad (1841–1900)

Illustrasie van Sydney in 1888

Nieu-Suid-Wallis se wetgewende raad het in 1842 'n halfverkose liggaam geword. In dieselfde jaar het Sydney amptelike stadstatus verkry en 'n bestuursraad is gestig, wat op 'n beperkende eiendomsbasis verkies is.[39]

Die ontdekking van goud in Nieu-Suid-Wallis en Victoria in 1851 het aanvanklik ekonomiese ontwrigting veroorsaak soos mans na die goudvelde getrek het. Melbourne het spoedig Sydney as Australië se grootste stad onttroon wat gelei het tot 'n voortgesette wedywering tussen dié twee stede. Die toenemende oorsese immigrasie en stygende welvaart weens die gouduitvoere het die behoefte aan behuising, verbruikersgoedere, dienste en stedelike geriewe verhoog.[47] Die Nieu-Suid-Walliese regering het die ekonomie ook laat groei deur aansienlike beleggings in spoorweë, trems, paaie, hawens, telegraaflyne, skole en stedelike dienste.[48] Die bevolking van Sydney en sy voorstede het van 95 600 in 1861 tot 386 900 in 1891 gegroei.[49] Baie van die stad se kenmerkende eienskappe het ontstaan. Die groeiende bevolking het in rye terrashuise in nou straatjies saamgetrek. Nuwe openbare geboue is uit sandsteen opgerig, waaronder by die Universiteit van Sydney (1854–61),[50] die Australiese Museum (1858–66),[51] die stadsaal (1868–88),[52] en die Algemene Poskantoor (1866–92).[53] Uitgebreide koffiepaleise en hotelle is opgerig.[54] Bedags swem by Sydney se strande is verbied, maar die afsonderlike swem by aangewese seebaddens was gewild.[55]

Droogtes, die aftakeling van openbare werke en 'n finansiële krisis het oor die grootste deel van die 1890's heen tot ekonomiese depressie in Sydney gelei. Terselfdertyd het die Sydney-gebaseerde premier van Nieu-Suid-Wallis, George Reid, 'n sleutelfiguur in die federasieproses geword.[56]

Deelstaathoofstad (sedert 1901)

'n Tremwa op Georgestraat in 1920. Sydney het eens oor een van die grootste tremnetwerke in die Britse Ryk beskik.
Opening van die Sydneyhawebrug op 19 Maart 1932
Sydney se stadshorison snags in 1938

Toe die ses kolonies op 1 Januarie 1901 gefedereer het, het Sydney die Nieu-Suid-Walliese deelstaathoofstad geword. Die uitbreek van die builepes in 1900 het die deelstaatregering genoop om die werwe te moderniseer en die krotbuurte in die middestad af te breek. Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het meer mans uit Sydney vrywillig by die Australiese Leër laat aanmeld as die Statebondsowerhede kon verwerk en het werkloosheid help verminder. Diegene wat in 1918 van die oorlog teruggekeer het, is "huise geskik vir helde" in nuwe voorstede soos Daceyville en Matraville belowe. "Tuinvoorstede" en gemengde industriële en residensiële ontwikkelings het ook langs die spoorlyn en tremgange gegroei.[38] In 1926 het die bevolking een miljoen bereik en Sydney het sy plek as Australië se grootste stad herwin.[57] Die regering het werk geskep met massiewe openbare projekte soos die elektrifisering van die Sydney-spoornetwerk en die bou van die Sydneyhawebrug.[58]

Sydney is in die 1930's meer geraak deur die Groot Depressie as die plaaslike Nieu-Suid-Wallis of Melbourne.[59] Die oprigting van nuwe geboue het amper tot stilstand gekom en teen 1933 het die werkloosheid vir manlike inwoners 28% beloop, maar meer as 40% in werkersklasgebiede soos Alexandria en Redfern. Baie gesinne is uit hul huise gesit en krotdorpe het gegroei langs die kus van Sydney en Botanybaai, waarvan "Happy Valley" by La Perouse die grootste was.[60] Die depressie het ook die politieke verdeeldheid vererger. In Maart 1932 is die populistiese premier van die Arbeidersparty, Jack Lang, tydens die opening van die Sydneyhawebrug aangeval deur die verregse Francis de Groot van die New Guard, wat die lint met 'n sabel afgekap het.[61]

In Januarie 1938 het Sydney die Britse Rykspele aangebied en die twee-eeufees van Europese vestiging in Australië gevier. 'n Joernalis het geskryf: "Goue strande. Sonbruin mans en meisies … Rooidak-villa's wat bo die blou waters van die hawe geleë is … Selfs Melbourne lyk soos een of ander grys en statige stad van Noord-Europa in vergelyking met Sydney se subtropiese prag." 'n Kongres van die "Aborigines van Australië" het na 26 Januarie as "'n dag van rou" verwys weens "die witman se beslaglegging op ons land."[62]

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het Sydney 'n toename in industriële ontwikkeling beleef. Werkloosheid het feitlik verdwyn en vroue het werk uitgeoefen wat voorheen slegs deur mans gedoen is. Sydney is in Mei en Junie 1942 deur Japannese duikbote aangeval waarby 21 mense dood is. Huishoudings het lugaanvalskuilings opgerig en oefeninge uitgevoer.[63] Militêre instellings ingevolge Australië se betrokkenheid in die oorlog sluit in die Tuineilandtonnelstelsel, die enigste Tonneloorlogvoeringkompleks in Sydney, en die militêre vestingstelsels Bradleys Head en Middle Head wat albei as erfenis gelys is en deel was van 'n grootskaalse verdedigingstelsel vir Sydney-hawe.[64]

'n Naoorlogse immigrasie en bababoom het tot 'n vinnige toename in Sydney se bevolking gelei en die uitbreiding van laedigtheidbehuising in voorstede dwarsoor die Cumberland-vlakte. Immigrante – veral uit die Verenigde Koninkryk en vastelandse Europa – en hul kinders was verantwoordelik vir meer as driekwart van Sydney se bevolkingsgroei tussen 1947 en 1971.[65] Die nuutgestigte Cumberland-streeksraad het toesig gehou oor residensiële ontwikkelings met 'n laedigtheid, waarvan die grootstes by Green Valley en Mount Druitt. Ouer residensiële sentrums soos Parramatta, Bankstown en Liverpool het voorstede van die metropool geword.[66] Vervaardiging, beskerm deur hoë tariewe, het van 1945 tot die 1960's meer as 'n derde van die arbeidsmag in diens geneem. Namate die lang naoorlogse ekonomiese opswaai aangehou het, het egter kleinhandel- en ander diensbedrywe die hoofbron van nuwe werksgeleenthede geword.[67]

'n Geskatte een miljoen toeskouers, die grootste deel van die stadsbevolking, het koningin Elizabeth II in 1954 sien land op Farm Cove waar kaptein Phillip 165 jaar gelede die Union Jack gehys het, waarmee haar koninklike Australiese toer begin het. Dit was die eerste keer wat 'n heersende monarg Australiese grond betree het.[68]

Toenemende oprigting van wolkekrabbers in Sydney en die uitbreiding van voorstede oor die "groen gordel" wat deur die beplanners van die 1950's in die vooruitsig gestel is, het gelei tot gemeenskapsbetogings. In die vroeë 1970's het vakbonde en aksiegroepe deur inwoners groen verbode op ontwikkelingsprojekte in geskiedkundige gebiede soos The Rocks afgedwing. Federale, staats- en plaaslike owerhede het erfenis- en omgewingswetgewing ingestel.[38] Die Sydney-operahuis was ook omstrede weens sy koste en geskille tussen die argitek Jørn Utzon en staatsamptenare. Kort nadat dit in 1973 geopen is, het dit egter 'n belangrike toeriste-aantreklikheid en simbool van die stad geword.[69] Die progressiewe vermindering in tariefbeskerming van 1974 af het Sydney van 'n vervaardigingsentrum na 'n "wêreldstad" begin transformeer.[70] Van die 1980's af het oorsese immigrasie spoedig toegeneem, met Asië, die Midde-Ooste en Afrika as die vernaamste gebiede van herkoms. Teen 2021 het Sydney se bevolking meer as 5,2 miljoen beloop en meer as 40% van sy bevolking is oorsee gebore. Die Volksrepubliek China en Indië het by Engeland verbygesteek as die grootste herkomslande van oorsese gebore inwoners.[71]

Geografie

Topografie

Nasa-satellietbeeld van Sydney

Sydney is geleë tussen die Stille Oseaan in die ooste en die Blue Mountains in die weste. Dit het ook die grootste natuurlike hawe in die wêreld, met meer as 70 strande, waaronder die beroemde Bondi Beach tel. Sydney het ook die wêreld se grootste woonbuurte, twee maal so groot as Beijing en ses keer so groot as die stede van Rome of Londen. Die metropolitaanse gebied van Sydney (Sydney Metropolitan Area) beslaan 'n oppervlakte van 12 138 vierkante kilometer. Sydney strek oor 'n lengte van 105 kilometer vanaf sy suidelike grens by die Koninklike Nasionale Park oor Botanybaai en Port Hacking tot by die Ku-ring-gai Chase- Nasionale Park.

Die groot oppervlakte van Sydney is die gevolg van die Australiese lewenstyl waarby die meeste gesinne oor hul eie huis beskik. Nogtans is daar ook woonstelblokke (wat in Australië home units genoem word), veral in die digbevolkte ouer woonbuurte en naby die hawe.

Natuur

Winter in die Royal National Park

'n Aantal nasionale parke is binne die stadsgrense geleë.

Royal National Park

In die suide van die stad is die Royal National Park geleë. Dié natuurgebied beslaan 132 km² en is die tweede oudste nasionale park ter wêreld na die Yellowstone- Nasionale Park in die Verenigde State van Amerika. In Australië word die park as die eerste nasionale park van die land beskou. Die park, wat sowat 29 km suid van die stad lê, bied 'n verskeidenheid aan natuur. Van heide en kranse langs die kus tot reënwoud. Daarnaas leef daar baie diersoorte, waaronder enkele dodelike slange en verskillende papegaaispesies.

Ku-ring-gai Chase- National Park

Sowat 25 km noord van die stad is die Ku-ring-gai Chase- National Park geleë. Dié nasionale part beslaan 152 km² en hier mond die Hawkesburyrivier in die Tasmansee uit. Benewens die steil afdraande na baie klein strandjies is die park 'n bosryke gebied wat afwissel met heide. Die indrukwekkende uitkykpunt West Head bied 'n uitsig oor die noordelikste voorstad van Sydney, Palm Beach. 'n Ander trekpleister van die park is die inheemse kuns wat bestaan uit tekeninge wat op verskeie plekke in rots gegraveer is.

Klimaat

Sydney het 'n vogtige subtropiese klimaat met warm somers en koel winters, terwyl reën dwarsdeur die jaar val. Januarie is die warmste maand van die jaar en 'n gemiddelde 14,6 dae per jaar het 'n maksimum temperatuur hoër as 30 °C. Die rekord maksimum temperatuur is 45,3 °C, wat op 14 Januarie 1939, aan die einde van 'n hittegolf gemeet is. In die winter daal die temperatuur nouliks onder 5 °C in kusgebiede. Die koudste maand is Julie, waartydens 'n rekord minimum temperatuur van 2,1 °C al ooit gemeet is.

Die gemiddelde jaarlikse reënval is 1217 mm, wat tydens 'n gemiddeld van 138 dae per jaar val. Die laaste sneeu in die Sydney-gebied is in 1836 aangeteken, alhoewel baie sagte hael in Julie 2008 ook deur baie vir sneeu aangesien is en daarop dui dat die 1836-sneeu moontlik nie werklik sneeu was nie.

Hoewel Sydney nie deur siklone getref word nie en die risiko vir aardbewings laag is, word die stad wel af en toe geteister deur bosbrande soos onder andere in 1994 en 2002.

Weergegewens vir Sydney (Observatory Hill)
Maand Jan Feb Mar Apr Mei Jun Jul Aug Sep Okt Nov Des Jaar
Hoogste maksimum (°C) 45,8 42,1 39,8 33,9 30,0 26,9 25,9 31,3 34,6 38,2 41,8 42,2 45,8
Gemiddelde maksimum (°C) 25,9 25,8 24,8 22,4 19,5 17,0 16,3 17,8 20,0 22,1 23,6 25,2 21,7
Gemiddelde minimum (°C) 18,7 18,8 17,6 14,7 11,6 9,3 8,1 9,0 11,1 13,6 15,6 17,5 13,8
Laagste minimum (°C) 10,6 9,6 9,3 7,0 4,4 2,1 2,2 2,7 4,9 5,7 7,7 9,1 2,1
Neerslag (mm) 101,1 118,0 129,7 127,1 119,9 132,0 97,4 79,8 68,4 76,9 84,3 77,3 1 211,9
Reëndae (d) 12,2 12,5 13,6 12,8 13 12,5 11,1 10,4 10,5 11,6 11,7 11,5 143,4
Humiditeit (%) 62 64 62 59 57 57 51 49 51 56 58 59 57
Bron: Bureau of Meteorology (Australië)[72][73]

Stedelike uitleg

Sydney se stadshorison

Die sentrale sakekern van Sydney strek suidwaarts vanaf Sydney Cove tot by die gebied rondom die sentrale treinstasie. Die sentrale sakekern word in die ooste begrens deur verskeie parke en deur Darling Harbour, 'n gewilde trekpleister vir toeriste met 'n lewendige naglewe. Saam met die besigheidsdistrik van Noord-Sydney wat aan die sentrale sakekern deur die bekende Harbour-brug verbind word, is die ander noemenswaardige besigheidsentra Parramatta in die suidweste, Chatswood in die noorde en Hurstville in die suide.

Die uitgestrekte woongebiede van Sydney word amptelik in 642 woonbuurte verdeel[74] en word bestuur as 40 plaaslike owerheidsgebiede. Daar is nie 'n sentrale stadsbestuur nie, maar die regering van Nieu-Suid Wallis het wel verskeie agentskappe wat stadswye dienste lewer.[75] Die stad word ook verder in die volgende streke verdeel: Eastern Suburbs, Hills District, Inner West Sydney, Canterbury-Bankstown, Lower North Shore, Northern Beaches, Northern Suburbs, North Shore, St George, Southern Sydney, South-eastern Sydney, South-western Sydney, Sutherland Shire en Western Sydney.

Demografie

  • 1800: 2 540
  • 1820: 12 000
  • 1851: 39 000
  • 1871: 206 800
  • 1901: 487 900
  • 1925: 1 039 000
  • 2006: 4,3 miljoen
  • 2014: 5 miljoen
  • 2017: 5,5 miljoen
  • 2050: 6 miljoen (vooruitskatting)

In 2022 was die gemiddelde ouderdom van Sydney se bevolking 36,8 jaar, wat laer is as die nasionale deursnee van 41,9.[76]

Besienswaardighede en ontspanningsgeriewe

Toeristetrekpleisters

Daar bestaan 'n verskeidenheid toeristetrekpleisters in Sydney, bv.:

Museums
  • Kunsgalery van Nieu-Suid-Wallis
  • Australian Centre for Photography
  • Museum of Contemporary Art
  • Powerhouse Museum of Science and Design
  • Sydney Observatory
  • Museum of Sydney
  • Australian Museum
Parke
  • Royal Botanic Gardens
  • Hyde Park

Baie van hierdie besienswaardighede kan met die Sydney-veerdiens bereik word. Daar is ook 'n aantal nasionale parke binne die stadsgrense geleë.

Sydney het ook 'n aktiewe naglewe. Beroemde uitgaanplekke is die wyke Kings Cross en Darling Harbour.

Infrastruktuur

Verkeer en vervoer

Circular Quay, die hoofveerbootterminaal in Sydney

Die meeste inwoners in Sydney gebruik hulle eie motor vir vervoer. Sydney het egter ook 'n uitgebreide trein-, taxi-, bus- en veerbootnetwerk. Die treine in Sydney word bestuur deur CityRail, 'n maatskappy wat deur die regering van Nieu-Suid-Wallis besit word. Die treindienste het vir 'n tydperk na die 2000 Olimpiese Spele kwaai agteruit gegaan, maar het na 'n besondere swak jaar in 2004 weer verbeter.[77]

Die meeste buitelandse toeriste land eers by die Sydney-lughawe. Die lughawe is in 1920 geopen en is daarom ook een van die oudste lughawens ter wêreld. Daar vlieg ongeveer 28 miljoen passasiers per jaar vanaf en ná die stad.

Watervoorsiening

Watervoorsiening en opgaardamme word bestuur deur die Sydney Catchment Authority, wat onder beheer van die deelstaat van Nieu-Suid-Wallis se regering staan. Die liggaam verkoop water aan "Sydney Water" en ander agentskappe. Water in die Sydney opvangsgebied word hoofsaaklik gestoor in die Nepean-opgaarskema, damme in die Blue Mountains, Woronoradam, Warragambadam en die Shoalhaven opgaarskema.[78]

Sport

Die Sydney-krieketveld

In 1938 het Sydney die derde Britse Rykspele aangebied. In 2000 het die Olimpiese Somerspele in Sydney plaasgevind. Die Olimpiese kompleks is geskep deur die nywerheidsgebied van Homebush Bay om te skep. Die Olimpiese Stadion met 'n kapasiteit van 117 000 toeskouers is een van die hoogtepunte van die kompleks. Tydens die sluitingseremonie het die destydse voorsitter van die Internasionale Olimpiese Komitee, Juan Antonio Samaranch, Sydney se spele as die beste ooit beskryf.

Ná die spele is die verblyf en stadions steeds in gebruik gehou. Die nasionale Australiese spanne in sportsoorte soos rugby en sokker speel steeds gereeld tussenwedstryde in die (nou verkleinde) Olimpiese Stadion. Buiten dit maak sekere klubspanne vanuit rugbyliga (Bulldogs, West Tigers, South Sydney) gereeld gebruik van die stadion. Die basketbalsaal word ook deur die West Sydney Razorbacks gebruik, 'n span wat in die NBL (National Basketball League) speel.

Sydney beskik met die Sydney-krieketveld oor 'n belangrike toetskrieketstadion. Die Australiese nasionale krieketspan speel van sy tuiswedstryde in die stad. Die Sydney-krieketveld het onder andere wedstryde tydens die krieketwêreldbekertoernooie in 1992 en 2015, asook die T20I-wêreldbeker 2022 gehuisves.

In rugby word Sydney tydens Superrugby deur die Waratahs verteenwoordig wat sy tuiswedstryde op die Sydney Voetbalstadion speel. Dit is ook tydens die Olimpiese Somerspele 2000 en saam met die ANZ-stadion tydens die Rugbywêreldbeker 2003 gebruik. Tydens die Rugbywêreldbeker 1987 is wedstryde op die Concord-ovaal aangebied. In Sydney speel die Wallabies van hul tuiswedstryde op beide die ANZ-stadion en die Sydney Voetbalstadion.

Ekonomie

Die sakekern met die operahuis in die aandskemer

Sydney is die finansiële en handelsentrum van Australië. Dit is daarnaas ook 'n toeriste-trekpleister met goedkoop verblyf. Die stad verskyn dikwels op ranglyste as een van die mooiste en mees leefbare stede in die wêreld.

Die grootste ekonomiese sektore in Sydney sluit eiendoms- en besigheidsdienste, kleinhandel, vervaardiging en gesondheids- en gemeenskapsdienste. Sedert die 1980's het werke al hoe meer van die vervaardigingsektor na die dienste- en inligtingsektor geskuif. Sydney verskaf ongeveer 25% van die land se totale bruto binnelandse produk.

Regering

Plaaslike regeringsgebiede

'n Kaart van Sydney se plaaslike regeringsgebiede

Die 38 plaaslike regeringsgebiede van Sydney is:

  • Ashfield
  • Auburn
  • Bankstown
  • Baulkham Hills
  • Blacktown
  • Botanybaai
  • Burwood
  • Camden
  • Campbelltown
  • Canada Bay
  • Canterbury
  • Fairfield
  • Holroyd
  • Hornsby
  • Hunter's Hill
  • Hurstville
  • Kogarah
  • Ku-ring-gai
  • Lane Cove
  • Leichhardt
  • Liverpool
  • Manly
  • Marrickville
  • Mosman
  • North Sydney
  • Parramatta
  • Penrith
  • Pittwater
  • Randwick
  • Rockdale
  • Ryde
  • Strathfield
  • Sutherland
  • Sydney
  • Warringah
  • Waverley
  • Willoughby
  • Woollahra

Internasionale verhoudings

Susterstede

Vennootskappe

Verwysings

  1. (en) "Greater Sydney: Basic Community Profile". Australiese Statistiekkantoor. 28 Maart 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 November 2022. Besoek op 7 November 2022.
  2. (en) "Regional population". Australiese Statistiekkantoor. 27 Maart 2025. Besoek op 17 April 2025.
  3. (en) Porter, Peter: Sydney. Amsterdam (Nederland): Time Life International 1980, bl. 42
  4. (en) Porter (1980), bl. 39
  5. 5,0 5,1 (en) Jack Egan (1999). Buried Alive, Sydney 1788–92. Allen and Unwin. p. 10. ISBN 1-86508-138-8.
  6. (en) Val Attenbrow (2010). Sydney's Aboriginal Past, investigating the archaeological and historical records (2de uitg.). Sydney: UNSW Press. p. 11. ISBN 978-1-74223-116-7.
  7. (en) Historical Records of New South Wales. Vol. 1 part 2. pp. 285, 343, 345, 436, 482, passim. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Julie 2022. Besoek op 23 Julie 2022.
  8. (en) Alan Birch; David S. Macmillan (1982). The Sydney Scene, 1788–1960 (2de uitg.). Sydney: Hale and Iremonger. pp. 105–06. ISBN 0-86806-017-8.{{cite book}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  9. (en) Val Attenbrow (2010). Sydney's Aboriginal Past, investigating the archaeological and historical records (2de uitg.). Sydney: UNSW Press. pp. 22–26. ISBN 978-1-74223-116-7.
  10. 10,0 10,1 (en) Val Attenbrow (2010). Sydney's Aboriginal Past: Investigating the Archaeological and Historical Records. Sydney: UNSW Press. p. 152. ISBN 978-1-74223-116-7. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 September 2023. Besoek op 23 September 2023.
  11. (en) Richard Macey (2007). "Settlers' history rewritten: go back 30,000 years". The Sydney Morning Herald. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Julie 2018. Besoek op 2 Julie 2014.
  12. (en) Val Attenbrow (2010). Sydney's Aboriginal Past: Investigating the Archaeological and Historical Records. Sydney: UNSW Press. p. 17. ISBN 978-1-74223-116-7.
  13. 13,0 13,1 13,2 13,3 (en) Anita Heiss, Melodie-Jane Gibson (2013). "Aboriginal people and place". Sydney Barani. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Julie 2014. Besoek op 7 Julie 2014.
  14. (en) Val Attenbrow (2010). Sydney's Aboriginal Past: Investigating the Archaeological and Historical Records. Sydney: UNSW Press. pp. 28, 158. ISBN 978-1-74223-116-7.
  15. (en) Keith Vincent Smith (Junie 2020). "Eora People". Eora People. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Maart 2023. Besoek op 28 Maart 2023.
  16. (en) Val Attenbrow (2010). Sydney's Aboriginal Past: Investigating the Archaeological and Historical Records. Sydney: UNSW Press. pp. 22–29. ISBN 978-1-74223-116-7.
  17. (en) Val Attenbrow (2010). Sydney's Aboriginal Past: Investigating the Archaeological and Historical Records. Sydney: UNSW Press. p. 13. ISBN 978-1-74223-116-7.
  18. (en) "Once were warriors". The Sydney Morning Herald. 2002. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Augustus 2011. Besoek op 22 Augustus 2011.
  19. (en) Geoffrey Blainey (2020). Captain Cook's epic voyage. Australië: Viking. pp. 141–43. ISBN 978-1-76089-509-9.
  20. (en) "Eight days in Kamay". Staatsbiblioteek van Nieu-Suid-Wallis. 22 April 2020. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Junie 2023. Besoek op 3 Junie 2023.
  21. (en) Geoffrey Blainey (2020). Captain Cook's epic voyage. Australië: Viking. pp. 146–57. ISBN 978-1-76089-509-9.
  22. (en) Stuart Macintyre (2020). A concise history of Australia (5de uitg.). Port Melbourne: Cambridge University Press. pp. 34–35. ISBN 978-1-108-72848-5.
  23. (en) Grace Karskens (2013). "The early colonial presence, 1788–1822". In Alison Bashford, Stuart MacIntyre (red.). The Cambridge History of Australia, Volume 1, Indigenous and Colonial Australia. Cambridge: Cambridge University Press. p. 91. ISBN 978-1-107-01153-3.
  24. Peter Hill (2008) bl. 141–50
  25. (en) "SL/nsw.gov.au". SL/nsw.gov.au. 9 Oktober 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Februarie 2013. Besoek op 3 Februarie 2023.
  26. (en) Stuart Macintyre (2020). A concise history of Australia (5de uitg.). Port Melbourne: Cambridge University Press. pp. 34–37. ISBN 978-1-108-72848-5.
  27. (en) Grace Karskens (2013). "The early colonial presence, 1788–1822". In Alison Bashford, Stuart MacIntyre (red.). The Cambridge History of Australia, Volume I, Indigenous and colonial Australia. Cambridge: Cambridge University Press. pp. 90–114. ISBN 978-1-107-01153-3.
  28. (en) Craig Mear (2008). "The origin of the smallpox outbreak in Sydney in 1789". Journal of the Royal Australian Historical Society. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Augustus 2011. Besoek op 31 Augustus 2011.
  29. (en) Grace Karskens (2013). "The early colonial presence, 1788–1822". In Alison Bashford, Stuart MacIntyre (red.). The Cambridge History of Australia, Volume I, Indigenous and colonial Australia. Cambridge: Cambridge University Press. pp. 106, 117–19. ISBN 978-1-107-01153-3.
  30. (en) Grace Karskens (2009). The Colony, a history of early Sydney. Crows Nest, NSW: Allen and Unwin. pp. 71–75. ISBN 978-1-74175-637-1.
  31. (en) Paul McGillick, Patrick Bingham-Hall (2005). Sydney architecture. p. 14–15.
  32. (en) Grace Karskens (2009). The Colony, a history of early Sydney. Crows Nest, NSW: Allen and Unwin. pp. 185–188. ISBN 978-1-74175-637-1.
  33. (en) Percival Serle (1949). Bligh, William (1754–1817). Project Gutenberg Australia. LCCN 49006289. OCLC 1956219. OL 7423467W.
  34. (en) Rosemary Broomham (2001). Vital connections: a history of NSW roads from 1788. Hale & Iremonger in samewerking met die Pad- en Verkeersowerheid. p. 25. ISBN 978-0-86806-703-2.
  35. (en) Beverley Kingston (2006). A History of New South Wales. Cambridge: Cambridge University Press. pp. 118–19. ISBN 978-0-521-83384-4.
  36. (en) Grace Karskens (2013). "The early colonial presence, 1788–1822". In Alison Bashford, Stuart MacIntyre (red.). The Cambridge History of Australia, Volume I, Indigenous and colonial Australia. Cambridge: Cambridge University Press. pp. 115–17. ISBN 978-1-107-01153-3.
  37. (en) Robin Haines, Ralph Shlomowitz. "Nineteenth century government-assisted and total immigration from the United Kingdom to Australia: quinquennial estimates by colony." Journal of the Australian Population Association, vol. 8, no. 1, 1991, bl. 50–61. JSTOR, www.jstor.org/stable/41110599. Besoek op 20 Julie 2021.
  38. 38,0 38,1 38,2 38,3 (en) Shirley Fitzgerald (2011). "Sydney". Dictionary of Sydney, State Library of New South Wales. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 September 2022. Besoek op 24 September 2022.
  39. 39,0 39,1 (en) "History of City of Sydney council". Stad Sydney. September 2020. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Julie 2023. Besoek op 18 Julie 2023.
  40. (en) Grace Karskens (2009). The Colony, a history of early Sydney. Crows Nest, NSW: Allen and Unwin. pp. 29–297. ISBN 978-1-74175-637-1.
  41. (en) "Castle Hill Rebellion". Nasionale Museum van Australië. 30 Junie 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Augustus 2021. Besoek op 10 Augustus 2021.
  42. (en) Anne-Maree Whitaker (2009). "Castle Hill convict rebellion 1804". Woordeboek van Sydney. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Maart 2018. Besoek op 4 Maart 2018.
  43. (en) Flood, Josephine (2019). bl. 66
  44. (en) Broome, Richard (2019). bl. 25–26
  45. (en) Flood, Josephine (2019). bl. 70
  46. (en) Tracey Banivanua Mar, Penelope Edmonds (2013). "Indigenous and settler relations". The Cambridge History of Australia, Volume I. p. 344.
  47. (en) Goodman, David (2013). "The gold rushes of the 1850s". The Cambridge History of Australia, Volume I. bl. 180–81.
  48. (en) Beverley Kingston (2006). A History of New South Wales. Cambridge University Press. pp. 74–80. ISBN 978-0-521-83384-4.
  49. (en) T. A Coghlan (1893). The Wealth and progress of New South Wales (7de uitg.). Sydney: E. A. Petherick & Co., Sydney. pp. 311–15.
  50. (en) Neil Radford (2016). "The University of Sydney". Dictionary of Sydney, State Library of New South Wales. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Augustus 2022. Besoek op 17 Augustus 2022.
  51. (en) Leila Ellmoos. "Australian Museum". The Dictionary of Sydney, State Library of New South Wales. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Augustus 2022. Besoek op 17 Augustus 2022.
  52. (en) "Town Hall". Dictionary of Sydney, State Library of New South Wales. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Augustus 2022. Besoek op 17 Augustus 2022.
  53. (en) Laila Ellmoos (2008). "General Post Office". Dictionary of Sydney, State Library of New South Wales. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Augustus 2022. Besoek op 17 Augustus 2022.
  54. (en) Diana Christine Noyce (2012). "Coffee Palaces in Australia: A Pub with No Beer". M/C Journal. 15 (2). doi:10.5204/mcj.464. ISSN 1441-2616.
  55. (en) Marie-Louise McDermott (2011). "Ocean baths". Dictionary of Sydney, State Library of New South Wales. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Augustus 2022. Besoek op 17 Augustus 2022.
  56. (en) Beverley Kingston (2006). A History of New South Wales. Cambridge University Press. pp. 88–89, 95–97. ISBN 978-0-521-83384-4.
  57. (en) "Australian Historical Population Statistics, 3105.0.65.001, Population distribution". Australiese Statistiekkantoor. 2019. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Augustus 2022. Besoek op 1 Augustus 2022.
  58. (en) Beverley Kingston (2006). A History of New South Wales. Cambridge University Press. p. 132. ISBN 978-0-521-83384-4.
  59. (en) Peter Spearritt (2000). Sydney's century, a history. Sydney: UNSW Press. pp. 57–58. ISBN 0-86840-521-3.
  60. (en) Peter Spearritt (2000). Sydney's century, a history. Sydney: UNSW Press. pp. 58–59. ISBN 0-86840-521-3.
  61. (en) Peter Spearritt (2000). Sydney's century, a history. Sydney: UNSW Press. p. 62. ISBN 0-86840-521-3.
  62. (en) Peter Spearritt (2000). Sydney's century, a history. Sydney: UNSW Press. p. 72. ISBN 0-86840-521-3.
  63. (en) Beverley Kingston (2006). A History of New South Wales. Cambridge University Press. pp. 157–59. ISBN 978-0-521-83384-4.
  64. (en) "Bradleys Head Fortification Complex, Mosman, NSW Profile". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Mei 2007. Besoek op 18 Mei 2007.
  65. (en) Peter Spearritt (2000). Sydney's century, a history. Sydney: UNSW Press. p. 91. ISBN 0-86840-521-3.
  66. (en) Peter Spearritt (2000). Sydney's century, a history. Sydney: UNSW Press. pp. 93–94, 115–16. ISBN 0-86840-521-3.
  67. (en) Peter Spearritt (2000). Sydney's century, a history. Sydney: UNSW Press. pp. 109–11. ISBN 0-86840-521-3.
  68. (en) "The 1954 Royal Tour of Queen Elizabeth II". State Library of New South Wales. 10 Januarie 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 September 2022. Besoek op 8 September 2022.
  69. (en) Beverley Kingston (2006). A History of New South Wales. Cambridge University Press. pp. 184–86. ISBN 978-0-521-83384-4.
  70. (en) Peter Spearritt (2000). Sydney's century, a history. Sydney: UNSW Press. pp. 109–12, 259–62. ISBN 0-86840-521-3.
  71. (en) "2021 Census of Population and Housing, General community profile, Greater Sydney, Table GO9(c)". Australiese Statistiekkantoor. 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Junie 2022. Besoek op 28 Junie 2022.
  72. (en) "Sydney (Observatory Hill)". Climate statistics for Australian locations. Bureau of Meteorology (Australië). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Mei 2020. Besoek op 10 Oktober 2014.
  73. (en) "Sydney in January 2013: An extreme month for Sydney". NSW Climate Services Centre. Bureau of Meteorology (Australië). 1 Februarie 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 November 2019. Besoek op 2 Februarie 2013.
  74. (en) "List of Official Sydney Suburbs". 2 Augustus 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 November 2019. Besoek op 25 November 2019.
  75. (en) Department of Local Government. Local Council Boundaries Sydney Outer (SO) Geargiveer 3 September 2006 op Wayback Machine
  76. (en) "Regional population by age and sex". Australiese Statistiekkantoor. 29 Augustus 2024. Besoek op 17 April 2025.
  77. (en) "Yearly On-Time Running". CityRail. 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Januarie 2009. Besoek op 26 Januarie 2009.
  78. (en) Sydney Catchment Authority. History of Sydney's Water Supply System Geargiveer 10 April 2010 op Wayback Machine
  79. 79,00 79,01 79,02 79,03 79,04 79,05 79,06 79,07 79,08 79,09 79,10 79,11 (en) "Sister cities". Sydney. Besoek op 17 April 2025.

Bronnelys

  • (en) Porter, Peter: Sydney. Amsterdam (Nederland): Time Life International 1980

Eksterne skakels


Vlag van Australië Hoofstede van Australië Wapen van Australië
HoofstedeAdelaideBrisbaneCanberraDarwinHobartMelbournePerthSydney