Gaan na inhoud

Swartland Plaaslike Munisipaliteit

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Swartland Plaaslike Munisipaliteit
Kaart van Suid-Afrika wat Swartland Plaaslike Munisipaliteit in Wes-Kaap aandui
Provinsie Wes-Kaap
Distriksmunisipaliteit Weskus
Tipe Plaaslike Munisipaliteit
Munisipale kode WC015
Burgemeester Harold Cleophas (DA)
Hoofstad Malmesbury
Grootste tale Afrikaans, Xhosa, Engels
Area 3 707 km²  
Bevolking 113,762 (2011)
Morreesburg se koringmuseum bewaar landbou-artefakte. Die Swartland is een van Suid-Afrika se belangrikste graanstreke.
Die Swartland, waarvan die munisipaliteit 'n deel uitmaak, word op die voorgrond gesien – foto uit die Internasionale Ruimtestasie in Augustus 2024.

Die Swartland is 'n graan- en wynstreek in die Suidwes-Kaap en ook die naam van 'n plaaslike munisipaliteit met die hoofdorp Malmesbury asook Moorreesburg, Darling en die Riebeek-Vallei. Die huidige bevolking is ongeveer 80 000.

Die naam is ook gegee aan 'n munisipaliteit wat ingevolge die nuwe munisipale bedeling van 2000 tot stand gekom het en waarvan Malmesbury die hoofdorp is.

Toponimie

[wysig | wysig bron]

Truter (1998) voer aan, sonder om dag of datum te vermeld, die gebied is deur Jan van Riebeeck kort na sy aankoms "Het Zwarte Land" genoem, 'n verwysing na die swarterige kleur van die plantegroei in die gebied.[1]

Moontlik is bogenoemde 'n verwarring betreffende die teks wat P.J. Nienaber geskryf het in die Suid-Afrikaanse Pleknaamwoordeboek Deel I (1971), want van Riebeeck is toe al lankal dood (dikwels word die naam "Dagregister" outomaties met Van Riebeeck verbind):[2]

Die vroegste vermelding van die naam Swartland is in die "Dagregister" (dagboek wat die Goewerneur moes hou van die vernaamste gebeurtenisse) van 26 Aug. 1701 - daarna kom die naam dikwels voor. Die landskap, oortrek met renoster- en bakkerbosse, vertoon 'n swart voorkoms en is waarskynlik vir die oorsprong van die naam verantwoordelik. Vanaf 1700 verneem ons gereeld van jaglisensies wat aan persone uitgereik is "omme te mogen gaan schieten aan 't Swarte land of de Groenekloof." Leningsplase is uitgegee, soos Ganze Kraal in 1709, Theefontein in 1716 en Groot Fontein in 1729. Tot 1829 was Malmesbury bekend as Zwartland. In 1744 het die sieketrooster, Wietse Botes, op Zwartland 'n skool geopen, en in Mei 1745 het eerw. Rutger die eerste predikant van die dorp geword.

In dieselfde jaar publiseer P.E. Raper sy Streekname in Suid-Afrika en Suidwes, en gee die volgende uitleg:[3]

Verskillende verklarings omtrent die oorsprong van die naam Swartland is opgeteken, onder andere dat die eerste Blanke verkenners van die plek waar Malmesbury tans geleë is, naamlik die militêre patrollie onder korporaal Wintervogel, swart grond om die mineralebron gevind het en die gebied na aanleiding daarvan Swartland genoem het. Botha beweer onomwonde dat die streek so genoem is omdat die grond swart is, dog dit blyk dat die naam ontstaan het na aanleiding van die renoster- en bakkerbossies wat volop hier groei. Gewoonlik is dié bossies vaalswart, en veral in mistige weer lyk hulle pikswart.

Raper se teks hierbo voer die leser na die literatuurverwysings, net so na die boek, Beyond the City Lights (1957) van die skrywer Lawrence Green - 'n kontreiskrywer wat nie juis beroemdheid verwerf het om sy bronne aan te haal nie:[4]

I once attempted to explain the name Swartland by the fact that the renosterbos, all too common there, darkens the ground when it turns black in winter. No one has contradicted me, but I have since heard a theory that the first white explorers to reach the Malmesbury site, the military patrol under Corporal Winter-vogel, found coal black soil round the mineral spring and gave it the obvious name. Else-where in the district the unploughed land is usually a reddish-brown colour.

M.M. Walters (1990) bied 'n soortgelyke verklaring:[5]

Ook oor die herkoms van die Swartland-benaming is daar verskil van mening. Colin Botha in Place names in the Cape Province reken die naam is toe te skryf aan die kleur van die grond. Swartlanders self dink dat die naam meer waarskynlik verwysing is na die natuurlike groei van renoster- en bakkerbosse wat vroeër groot dele van die gebied oordek het en swart opgee as dit klam is. Hoe dit ook al sy, die eerste amptelike verwysing na die streek as die Swartland kom voor in die rapport, gedateer 22 Augustus 1701, van korporaal Daniel Taus van die militêre pos op Porseleinberg. Hy berig dat hy op verkenning uit was in "het Zwartland" en in 'n geveg met Boesmans betrokke was.

Die feit dat die datum in Augustus aangegee is, in die middel van die winterreënseisoen, klink na 'n logiese verklaring: die veld behoort dus na die reën swart te vertoon.

In die Dagregister staan op Vrydag, 26 Augustus 1701, die volgende:[6]

Op dato soo werd den Ed:e Heer Gouverneur door den corporaal Daniel Taus, leggende op de post Riebeeks Casteel, mondeling gerapporteert hoe dat door Compagnies dienaren zijnde sterk 6 te paard en 2 te voet, den 22:e deeser vermeld, in het Swarte Land, de Sonquase Hottentots hadden aangetroffen [...]

Ook Raper, Möller en Du Plessis gee net weer 'n verkorte weergawe wat vroeër gesê is, in Plekname van Suider-Afrika (2020):[7]

Streek wat min of meer ooreenstem met die distrik Malmesbury soos dit in 1799 was. Die naam kom vir die eerste keer in Augustus 1701 voor, en verwys nie na die kleur van die grond, wat gewoonlik geel is nie, maar na die renosterbossie, Elytropappus rhinocerotis, en bakkerbossie, Passerina filiformis, wat hier groei. Hierdie struike is grysswart, en pikswart wanneer dit nat word.

Colin Graham Botha (1926) se aanname mag miskien in die 20ste eeu mee verskil word as 'n skoot in die donker, maar sy stelling is, onwetend, véél nader aan Peter Kolbe se siening van 1719 (soos later hieronder gesien sal word):[8]

The words compounded with Dutch veld and land, field and country, are very expressive and give us a good idea of the nature of the country. They are used sometimes in referring to large tracts of country as Zwartland, now the district ot Malmesbury, literally black country; in account of its soil, the name is found in the records in 1701 as Swarte land...

'n Derde moontlikheid is egter nie uitgesluit nie, 'n mens sou slegs jou oë hoër moet opslaan: dit het niks met die kleur van die grond of bossies te make nie, maar wel met die kleur van die omliggende berge. As mens jou moet indink hoe 'n landreisiger hom tussen Tafelbaai en Saldanhabaai sou kon oriënteer, is die verklaring nie heeltemal vergesog nie.

Theophil Friedrich Ehrmann klink in 1795 baie seker van sy saak as hy in sy Geschichte der merkwürdigsten Reisen, welche seit dem zwölften Jahrhunderte zu Wasser und zu Land unternommen worden sind, skryf in Boekdeel 14:[9]

Oorspronklike Duits Afrikaans
Der Distrikt Schwarzland (Zwart Land) hat ohne Zweifel seinen Namen von den sogenannten schwarzen Bergen an der Saldanhabai erhalten, die in seinem Umfange liegen. Die Distrik Swartland het sonder twyfel sy naam aan die sogenaamde swart berge aan die Saldanhabaai te danke, wat in die omtrek geleë is.

Hoe hy hierby uitkom, vind ons in sy volgende skrywe in Boekdeel 15 en 16[10]

Oorspronklike Duits Afrikaans
Am 3sten Oktober kamen wir nach Floris Fischers Hof. Vom grünen Thal an und weiter hin heisst diess land Schwarz Land. Es hat seine eigene Kirche; der Pfarrer war aber seit 3 Jahren todt, und seine Stelle von Holland aus noch nicht besetzt. - Wir giengen den schwarzen Berg vorbei, setzen am 7ten über einen Bergfluss [...] Op die 3de Oktober [1773] kom ons op Floris Fischer se plaas aan. Die streek vanaf Groenkloof en verder aan staan as die Swartland bekend. Dit beskik oor sy eie kerk; die predikant is egter 3 jaar lank al dood, en sy pos (soos vanuit Holland besluit word) is nog nie gevul nie. Ons trek verby die swart berg, en steek die 7de 'n bergrivier oor [...].

Bogenoemde is egter nie die oudste verklaring vir die naam Swartland nie. Peter Kolbe skryf reeds in 1719 die volgende, wat maar net weer aansluit by Colin Graham Botha se siening hierbo:

Oorspronklike Duits[11] Franse vertaling (1743)[12] Afrikaanse vertaling
XIX. [...] Nahe an diesem Berge [der rothe Sandberg] liegt ein Bezirk, das schwarze Land benennet, weil dieses, an Wieswachse sehr fruchtbare, Erdreich vergleichen Farbe hat. XIX [...] Près de cette montagne [la montagne du Sable rouge] est placé un quartier qu'on nomme la Terre noire (Het Swarte Land), ainsi appellé parce que le terrein, très fertile en pâturages, est de cette couleur. Naby hierdie berg [die Roode Sandberg] lê daar 'n distrik wat die Swartland genoem word, omdat hierdie grond, wat baie vrugbaar aan weiland is, hierdie kleur het.

Nedersettings

[wysig | wysig bron]

Nedersettings in die munisipaliteit:

Ekonomie

[wysig | wysig bron]

Malmesbury is die administratiewe sentrum van die munisipaliteit en vervul 'n belangrike stedelike rol in die streek en die provinsie. Sy hoë ontwikkelingspotensiaal kan toegeskryf word aan faktore soos sy relatiewe toeganklikheid langs die N7-nasionale pad- en spoorkorridor; nabyheid aan Kaapstad; gediversifiseerde ekonomiese basis, wat nie slegs landbou akkommodeer nie, maar ook goed-ontwikkelde industriële en kommersiële sektore met ondersteunende infrastruktuur. Malmesbury is die tuiste van 'n aantal groot maatskappye, sowel as streekkantore van provinsiale en nasionale staatsdepartemente.

In 2016 was die hoofbydraers tot die streeks-BBP: Vervaardiging (R1 689,0 miljoen of 22,9%), groot- en kleinhandel, spyseniering en verblyf (R1 289,2 miljoen of 17,5%), landbou, bosbou en visvang (R1 173,4 miljoen of 15,9%) en algemene regering (R851,0 miljoen of 11,5%).

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Cornel Truter: Weskus - 'n Toeristegids. Tweede uitgawe. Kaapstad: Universiteit van Kaapstad 1998, bl. 56
  2. Nienaber, P.J. 1971. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers, bl. 363
  3. Raper, P.E. 1971. Streekname in Suid-Afrika en Suidwes. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers, bl. 119
  4. Green, L. G. 1957. Beyond the City Lights, bl. 130.
  5. Walters, M.M. 1990. Die Swartland is my Tuisland: 'n nostalgiese reis. Vlaeberg: Perskor, pp. 26-27.
  6. Towards A New Age of Partnership (TANAP) DVD: 1701 Dagregister_transkripsie
  7. Raper, P.E., Möller, L.A. en Du Plessis, L.T. 2020. Plekname van Suider-Afrika. Pretoria: Protea Boekhuis, bl. 694:
  8. Botha, C.G. 1926. Place Names in the Cape Province. Cape Town: Juta & Co, p. 43
  9. Ehrmann, T.F. 1795. Geschichte der merkwürdigsten Reisen, welche seit dem zwölften Jahrhunderte zu Wasser und zu Land unternommen worden sind. XIV. Frankfurt am Main: Hermannschen Buchhandlung.
  10. Ehrmann, T.F. 1796. Geschichte der merkwürdigsten Reisen, welche seit dem zwölften Jahrhunderte zu Wasser und zu Land unternommen worden sind. XV. Frankfurt am Main: Hermannschen Buchhandlung.
  11. Kolb, P. 1745 (1719) Beschreibung des Vorgebürges der guten Hoffnung. Frankfurt & Leipzig: Peter Conrad Monath.
  12. Description du Cape de Bonne-Esperance. 1743. Tome Second. Amsterdam: Jean Catuffe, pp.77-78

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]


Vlag van Suid-Afrika

Provinsie Wes-Kaap

Hoofstad:

Kaapstad

Streke:

Kaapse Skiereiland | Kaapse Wynlande | Sentraal Karoo | Overberg | Tuinroete | Weskus

Grootste stede en dorpe:

Kaapstad | George | Mosselbaai | Knysna | Oudtshoorn | Paarl | Robertson | Stellenbosch | Swellendam | Vredenburg | Worcester

Munisipaliteite:

Beaufort-Wes | Bergrivier | Bitou | Breedevallei | Kaap Agulhas | Cederberg | Drakenstein | George | Hessequa | Kaapstad | Kannaland | Knysna | Laingsburg | Langeberg | Matzikama | Mosselbaai | Oudtshoorn | Overberg | Overstrand | Prins Albert | Saldanhabaai | Sentraal Karoo | Stellenbosch | Swartland | Swellendam | Theewaterskloof | Tuinroete | Weskus | Witzenberg