Quebec
- Hierdie artikel handel oor die Kanadese provinsie. Sien gerus Quebec (dubbelsinnig) vir 'n lys van artikels wat met dieselfde titel geassosieer word.
Province de Québec Quebec | |||||
---|---|---|---|---|---|
| |||||
Leuse : Je me souviens | |||||
![]() | |||||
Ander provinsies en gebiede van Kanada | |||||
Land | ![]() | ||||
Hoofstad | Quebecstad 46°49′N 71°12′W / 46.817°N 71.200°W | ||||
Grootste stad | Montreal | ||||
Goewerneur-generaal | Manon Jeannotte | ||||
Eerste Minister | François Legault (CAQ) | ||||
Oppervlakte | 1 542 056 km² | ||||
- Land | 1 183 128 vk km | ||||
- Water | 176 928 vk km (11,5%) | ||||
Bevolking (1 Julie 2019) | |||||
- Totaal | 8 484 965 inw. | ||||
- Digtheid | 5,5 inw./vk km | ||||
Toelating tot die Kanadese Federasie | |||||
- Datum | 1 Julie 1867 | ||||
Verteenwoordiging in die Parlement | |||||
- Parlement | 75 | ||||
- Senaat | 24 | ||||
Posafkorting | QC | ||||
Voorsetsel by poskode | G H J | ||||
Tydsone | UTC -51 | ||||
Internet-domein | .quebec.ca | ||||
1 UTC-4 op die eilandgroep îles de la Madeleine |
Quebec (Frans: Québec, [kebɛk], ) is een van die tien provinsies van Kanada, met 'n landoppervlakte van 1 540 687 vierkante kilometer en 'n merendeels Franssprekende bevolking wat op 1 Julie 2019 op 8 484 965 beraam is.[1] Dit is die enigste van Kanada se provinsies waar uitsluitlik Frans erkenning geniet as ampstaal. Met sy eie taal, kultuur, tradisies en instellings, vorm Quebec 'n afsonderlike Franssprekende nasie in Kanada.[2]


Die provinsie het grense met die Verenigde State in die suide, die provinsie Ontario in die weste en die provinsie Nieu-Brunswyk (Frans: Nouveau-Brunswick) in die ooste. Sowat die helfte van die grondgebied bestaan uit mere en riviere – die provinsie besit 16 persent van die wêreld se varswaterreserwes. Die noorde (Grand-Nord québécois) is arkties en yl bevolk, terwyl die vlaktes van die Sint-Laurensrivier (Frans: Fleuve Saint-Laurent) tot die gematigde sone behoort.
Quebec is Kanada se tweede mees bevolkte provinsie na Ontario. Die grootste deel van die bevolking is in stedelike gebiede langs die Sint-Laurensrivier tussen Montreal as die provinsie se ekonomiese en industriële spilpunt en die administratiewe hoofstad Quebecstad saamgetrek. Meer as die helfte van die Québécois, soos die bewoners in Frans genoem word, woon in die metropolitaanse gebied van Groter Montreal op en rondom Montrealeiland.
Groter gemeenskappe Engelssprekendes is in die weste van Montrealeiland saamgetrek, terwyl belangrike anglofone minderhede ook in streke soos die Outaouais, Estrie (ook die Eastern Townships genoem) en Gaspé aangetref word. Die uiterste noorde, die Nord-du-Québec-streek wat sowat die helfte van Quebec se oppervlakte beslaan, is yl bevolk en word merendeels deur Indiaanse en Inuït- gemeenskappe bewoon.
Alhoewel Kanada op federale vlak Engels en Frans as amptelike tale erken, bly die status van ampstaal in Quebec beperk tot Frans. As 'n gebied wat sy historiese en kulturele oorsprong in die eertydse Franse kolonies in Noord-Amerika het, is die provinsie tans die enigste gebied op die vasteland met 'n Franssprekende meerderheid en provinsiale regering en 'n Franse regstelsel, die Code civil.
Selfregering speel 'n belangrike rol in die politiek van Quebec – die amptelike opposisie, die Sosiaal-Demokratiese Parti Québécois, is 'n voorstander van nasionale onafhanklikheid. Regeringspartye, wat die wegbreek van Kanada as politieke agenda verkondig het, het al twee referendums (in 1980 en 1995) oor hierdie saak gehou, tog het 'n klein meerderheid Québécois teen die voorstel gestem. In 2006 het die Kanadese Laerhuis 'n simboliese mosie aanvaar waardeur die Franssprekende Québécois as 'n "nasie binne die verenigde Kanada" erken is.[3]
Etimologie
[wysig | wysig bron]Die naam "Quebec" is ontleen aan 'n Algonkin-woord wat "smal gang" of "straat" beteken.[4] Die naam het oorspronklik verwys na die gebied rondom Quebecstad waar die Sint-Laurensrivier vernou tot 'n krans-omlynde kloof. Van die vroeë spellingsvariasies sluit in Québecq en Kébec.[5] In 1608 het die Franse ontdekkingsreisiger Samuel de Champlain die naam Quebec gekies vir die koloniale buitepos wat hy as die administratiewe setel vir Nieu-Frankryk gestig het.[6]
Simbole van die provinsie
[wysig | wysig bron]
Quebec se vlag, die fleurdelisé, is 'n wit kruis op 'n blou agtergrond (die simbool van 'n christelike nasie) met vier lelies (Fleur de Lys) wat die Franse monargie versinnebeeld. Dit is die koninklike vlag wat die leër van generaal Montcalm, Marquis de Saint-Véran by hulle oorwinning in die slag van Carillon in 1758 gebruik het. Aangesien dit die simbool van die voormalige koningshuis van die Bourbone is, word dit in Frankryk sedert die Franse Rewolusie as kontrarewolusionêr beskou.
Die fleurdelisé-vlag het op 21 Januarie 1948 die ou Britse Union Jack op die toring van die parlementsgebou vervang as amptelike vlag van die provinsie.
Die Nasionale Leuse is "Je me souviens" (Ek herinner my) – 'n trotse verwysing na die provinsie se kleurryke geskiedenis. Gilles Vigneault se lied "Gens du pays" word dikwels as die nie-amptelike volkslied van die provinsie beskou.
Die nasionale blom is die Iris versicolor (blouvlag-iris), en die nasionale voël is die sneeu-uil.
Die Heilige Anna en Johannes die Doper is die beskermheiliges van Frans-Kanada. 24 Junie, la Saint-Jean, is Quebec se nasionale fees en word sedert 1977 amptelik Fête nationale du Québec genoem.
Geografie
[wysig | wysig bron]

Quebec lê in die ooste van Kanada en word deur die Engelstalige provinsie Ontario en die Hudsonbaai in die weste, die Atlantiese Oseaan met die Labradorsee, die provinsie Newfoundland en Labrador (Frans: Terre-Neuve) en die provinsie Nouveau-Brunswick in die ooste, die Verenigde State (met die deelstate Maine, New Hampshire, Vermont en New York) in die suide en die Arktiese Oseaan in die noorde begrens.
Quebec is Kanada se grootste provinsie en beslaan 15,5 persent van die land se totale oppervlakte en sowat drie keer die oppervlakte van Frankryk. Die provinsie vorm 'n reusagtige landmassa, wat van die 45ste noordelike breedtegraad tot by die Arktiese See strek. Die grootste deel van die gebied, veral die noordelike gebiede van Nouveau-Québec, is egter yl bevolk. Meer as 90 persent van Quebec se oppervlakte lê binne die Kanadese Skild, 'n baie ou geologiese gebied, wat geskiedkundig ook as die Ungava-gewes bekend staan. Die Laurentides-gebergte noord van Montreal is die oudste bergreeks ter wêreld.
In die jare 1898 en 1912 besluit die Kanadese Parlement om die groot noordelike gebiede, Le Grand Nord Québécois, by die provinsie te voeg. 'n Groot deel van die noord-oostelike gebiede maak oorspronklik deel uit van die Noordwes-Territorium. Hierdie gebiede sluit ook die Jamesbaai in, waar sommige van die grootste Kanadese hidrokragsentrales teen die La Granderivier opgerig is. Hulle word deur die maatskappy Hydro-Québec beheer, 'n onderneming in besit van die provinsie.
Die gebied noord van die 55ste breedtegraad, Nunavik, is die tuisland van die Inuït.
Die Sint-Laurensrivier is die lewensaar van die provinsie. Langs die rivier lê die digbevolkte sentrale gedeelte van die povinsie met die stede Montreal en Quebecstad. Die Sint-Laurens verbind danksy die Sint-Laurenswaterweg sedert 1959 die Groot Mere tussen Kanada en die Verenigde State met die Atlantiese Oseaan. Naas die Sint-Laurens beskik Quebec met sy een miljoen mere en riviere oor enorme reserwes van varswater.
Klimaat
[wysig | wysig bron]

Quebec kan in drie verskillende klimaatstreke verdeel word. Die suide en weste van die provinsie, waar die grootste deel van die bevolking gekonsentreer is, het 'n vogtige kontinentale klimaat met warm somers en lang, koue winters met sneeuval. Die belangrikste klimatiese invloede is lugmassas wat vanuit Wes- en Noord-Kanada in oostelike rigting en vanuit die suidelike en sentrale Verenigde State in noordelike rigting beweeg.
Vanweë die invloed van stormstelsels, wat hulle oorsprong in die sentrum van die Noord-Amerikaanse vasteland en in die Atlantiese Oseaangebied het, kom hoë neerslae dwarsdeur die jaar voor. Die meeste gebiede kry jaarliks meer as 1 000 millimeter, met sneeuvalle van meer as 300 sentimeter in baie streke. Uiterste weerstoestande soos tornado's en swaar donderbuie kom soms gedurende die somermaande voor.
Die meeste streke in die hartland van Quebec het 'n subarktiese klimaat. Die winters is hier lank, terwyl ook die laagste temperature in Oos-Kanada hier aangeteken word. Die somers is warm, maar baie kort vanweë die gebied se noordelike ligging en die groter invloed van Arktiese lugmassas. Afgesien van 'n aantal hoër geleë streke kry die sentrale gedeelte van Quebec ietwat minder neerslae as die suide.
Die noordelike geweste van Quebec word deur 'n Arktiese klimaat gekenmerk wat baie koue winters en kort koel somers behels. Die hoofsaaklike klimatiese invloede in hierdie gebied is die seestromings in die Arktiese Oseaan (soos die Labrador-stroming) en kontinentale lugmassas uit die hoë Arktiese noorde.
Bevolking
[wysig | wysig bron]

Die bevolking van die Province du Québec bestaan uit die afstammelinge van die Franssprekende en Engelssprekende setlaars en die Eerste Nasies (Premières Nations of Amerindians, veral Iroquois en Hurone, en Inuïete). Die Franssprekende bevolking van ses miljoen is merendeels afstammelinge van die oorspronklike Franse setlaarbevolking van sowat 10 000 siele. Alhoewel hulle 'n Noord-Amerikaanse leefstyl volg, word hul politieke kultuur en denke deur Europa bepaal.
Daarbenewens het immigrante van dwarsoor die wêreld hulle in Quebec gevestig. Sedert 1945 het 650 000 immigrante uit 80 lande 'n nuwe tuiste in Quebec gevind. 83% van die totale bevolking praat Frans, sowat 12% is Engelstalig. Daar is minderhede van Han-Sjinese, Portugees-, Grieks- en Italiaanstaliges. Die grootste deel van die Québécois leef langs die Fleuve Saint-Laurent (Saint-Laurentrivier).
Voor die aankoms van die Franse setlaars was die gebied van die huidige provinsie die tuiste van 'n aantal Indiaanse stamme – die Eerste Nasies. Die Provinsie Quebec erken vandag elf nasies op sy gebied – die Inuït, die Mohawks (Irokese of Iroquois), die Innus, die Cri's, die Algonkins, die Atikamekw, die Micmacs, die Hurone, die Abenaki's, die Malesiete en die Naskapi's.
Die elf stamme van die Eerste Nasies het vandag sowat 70 000 lede en streef daarna om hul eie taal en kultuur te bewaar. Die Iroquois en Hurone is albei lede van die Irokese taalfamilie. Die naam "Huroon" is afgelei van die eienaardige kapsels van die mans. Die Franse woord l'huire, wat eintlik die opgesette borstels van 'n vark beskryf, word tot "Huroon" vervorm.
In die tydperk tussen 1627 en 1663 het die Franse bevolking van Quebec van 100 tot 2 500 toegeneem. Die eerste setlaars se geledere is binne 35 jaar versterk deur sowat 1 250 immigrante, en danksy die natuurlike bevolkingsgroei het hierdie syfer verdubbel. Die Franse setlaars het veral uit die kusgebiede en hawestede van Noord- en Wes-Frankryk en die hoofstad Parys gekom. Die geskiedkundige provinsies, wat die grootste rol in die volksplanting in Quebec gespeel het, was Normandië, Aunis, Perche, Île-de-France, Poitou, Maine, Saintonge, Anjou en Bretagne.
Die bevolking van Quebec het in die derde kwartaal van 2007 met 0,25 persent gegroei, en alhoewel hierdie syfer minder as die gemiddelde van Kanada is, het die aantal geboortes merkbaar toegeneem. Vir die eerste keer sedert die 1980's is die natuurlike bevolkingsgroei sedert die begin van die jaar 2006 steeds hoër as die gemiddelde natuurlike bevolkingsaanwas vir die hele land.[7]
Die Franse taal het die taalstryd in die sewentigerjare gewen: opskrifte en kennisgewings moes gewoonlik eentalig Frans wees. Die afskaling van Engels word vandag nie meer stelselmatig deurgevoer nie; Engelstalige opskrifte behoort egter steeds kleiner te wees as die Franse. Immigrante word deur die provinisiale regering gekies; in 'n poging om die persentasie Franstaliges te vergroot het baie Noord-Afrikane in die afgelope jare 'n verblyfpermit gekry.
Immigrasie
[wysig | wysig bron]In 2003 is 37 619 immigrante aanvaar, veral uit Franssprekende lande en voormalige Franse kolonies. Die belangrikste lande van herkoms is Frankryk, België, Haïti, Libanon, Marokko, Sirië en Algerië. Die aantal immigrante het in 2010 gestyg tot 54 000.
In 2011 het die Minister vir Immigrasie en Kulturele Gemeenskappe, Kathleen Weil, aangekondig dat Quebec in die periode tussen 2012 en 2015 sowat 200 000 immigrante sal aanvaar.[8] Vanaf 2015 is 'n jaarlikse immigrasiekwota van 50 000 vasgestel.
Die tien grootste munisipaliteite volgens bevolking
[wysig | wysig bron]

Munisipaliteit | 2010 | 2006 | 2001 | 1996 |
---|---|---|---|---|
Montreal | 1 667 700*** | 1 637 563 | 1 812 723 | 1 774 846 |
Quebecstad | 508 349*** | 500 691* | 507 986 | 504 605 |
Laval | 395 814 | 376 845 | 343 005 | 330 393 |
Gatineau | 255 000*** | 245 000** | 226 696 | 217 591 |
Longueuil | 232 516 | 230 678 | 348 091 | 373 009 |
Sherbrooke | 153 384*** | 150 751* | 146 689 | 135 501 |
Saguenay | 144 746**** | 146 641** | 148 050 | 153 476 |
Lévis | 136 066*** | 130 008* | 121 999 | 118 344 |
Trois-Rivières | 131 338**** | 126 323 | 122 395 | 124 417 |
Terrebonne | 101 558*** | 94 703 | 80 531 | 75 110 |
* Bevolking soos in 2007
** Bevolking soos in 2008
*** Bevolking soos in 2009
**** Bevolking soos in 2011
Die Franse taal in Quebec
[wysig | wysig bron]
Alhoewel taal tans as die belangrikste kulturele band beskou word wat Quebec en ander dele van Franko-Amerika steeds met Frankryk as die historiese Moederland verbind, het vier eeue van aparte ontwikkeling bygedra tot die ontstaan van 'n variëteit van gesproke – en soms ook geskrewe – Frans wat van die Europese oorsprongstaal in sommige opsigte verskil, net soos Engels in Noord-Amerika van sy Britse eweknie en Portugees in Brasilië van Europese Portugees.
Naas die uitspraak van Frans in Quebec, wat in sommige opsigte dié van 17de eeuse Frans bewaar het (alhoewel sprekers van formele Frans in Quebec dikwels moeilik onderskei kan word van Europese sprekers van Standaardfrans), toon Kanadese Frans, veral in sy gesproke vorm, verskille as gevolg van
- leenwoorde en leenuitdrukkings wat uit Indiaanse tale en Engels oorgeneem is,
- die bewaring van uitdrukkings en woorde wat in Europese Frans as argaïes beskou word, en
- grammatikale en sintaktiese kenmerke wat in Europese Frans as foutief beskou sou word, en
- neologismes soos dépanneur (Engels: convenience store) en courriel ('n verkorting van courrier électronique, "e-pos") wat in Europese Frans onbekend is en waarna as canadianismes verwys word.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Vroeë geskiedenis en Europese verkenning
[wysig | wysig bron]Quebec is oorspronklik deur inheemse volke soos Inuïete, Mohawks, Cree, Algonkin, Innu, Atikamekw, Mi'kmaq, Wyandot, Abenaki, Maliseet en Naskapi bewoon. Terwyl die meeste volke op die Kanadese Skild en in die Appalache 'n nomadiese lewenstyl as jagters, versamelaars en vissers gevoer het, was die Sint-Laurens-Irokese sittende en het landbou beoefen.
Baskiese walvisjagters en vissers het van omtrent 1525 af gereeld na die Oos-Kanadese kus gevaar en die monding van die Sint-Laurensrivier bereik. Die eerste Europese ontdekkingsreisiger, wie Quebec se binneland verken het, was die Fransman Jacques Cartier. Hy het in 1534 Gaspé bereik en die daaropvolgende jaar die rivier bevaar. Pierre de Chauvin het in 1600 die eerste handelspos in Tadoussac langs die monding van die Saguenayrivier gestig.
Nieu-Frankryk
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Nieu-Frankryk.






In 1608 het Samuel de Champlain Quebecstad gestig wat die hoofstad van die kolonie Nieu-Frankryk geword het. Die Franse het handelsbetrekkinge en toe militêre alliansies met die Algonkin en die Wyandot aangeknoop. Velle is na Frankryk uitgevoer, in ruil daarvoor het die Indiane metaalgoedere, vuurwapens en alkohol gekoop. Vanuit Quebecstad het woudlopers (coureur de bois) en Rooms-Katolieke sendelinge die binneland van die Amerikaanse vasteland verken. Gedurende die 17de eeu is verdere nedersettings langs die Sint-Laurensrivier gestig soos Montreal in 1642.
Die naam "Quebec", wat in die Algonkin-taal "die plek waar die rivier vernou" beteken, het oorspronklik na die gebied rondom Quebecstad verwys, waar die Sint-Laurensrivier deur 'n nou gang begrens deur steil rotse vloei. Vroeë variante van die naam se spelling is Québecq (in 1601) en Kébec (in 1609).[9][10]
In 1627 het die Franse koning Lodewyk XIII aan die Compagnie de la Nouvelle-France die monopolie op pelshandel verleen, 'n semi-feodale grondtoekenningstelsel (régime seigneurial) ingestel en die vestiging van nie-Katolieke verbied. Sulpisiane en Jesuïete het sendingstasies gestig om die Algonkin en Wyandot te bekeer. Nadat die kolonisasie onder leiding van die Kompanjie slegs baie stadig verloop het, is Nieu-Frankryk in 1663 onder koning Lodewyk XIV in 'n koninklike kolonie omskep. Tydens die Oorlog van koning Willem (1689–1697) is Quebec vir die eerste keer vanuit Nieu-Engeland aangeval. Gevolglik is die stadsmure versterk. Gedurende die daaropvolgende eeu het die aantal Franse setlaars gegroei, wat na hulleself as Canadiens verwys het, twintigvoudig vermeerder tot ongeveer 60 000. Weens die kroon se weiering om die Hugenote hulle in die kolonie te laat vestig, het die bevolking ver agter dié van die dertien kolonies gebly.
In 1753 het Frankryk met die oprigting van vestings in die Ohiogebied begin om Groot-Brittanje se invloed terug te dryf. In die daaropvolgende jaar het met 'n skermutseling by Fort Duquesne naby die huidige Pittsburgh die Franse en Indiaanse Oorlog uitgebreek, wat deel was van die Sewejarige Oorlog. Aan die Franse kant het die Wyandot geveg, terwyl die Irokese bondgenote van die Britte was. In 1759 is die Franse tydens die Slag om Quebec verslaan. Deur die Verdrag van Parys in 1763 het die Britte beheer oorgeneem oor Nieu-Frankryk. Deur die koninklike proklamasie is die kolonie in dieselfde jaar in Provinsie Quebec hernoem.
Britse heerskappy
[wysig | wysig bron]Aangesien die assimilasie van die Franstalige bevolkingsmeerderheid misluk het, het die Britse parlement in 1774 die Quebec-wet goedgekeur. Hierdie wet het die Franse regstelsel, godsdiensvryheid en die Franse taal en kultuur erken. Daarmee wou die Britte verhoed dat die Québécois hulle by die opstandige dertien kolonies aansluit.
Die wet het egter ook die dertien Kolonies omgekrap, aangesien dit Quebec se grense na die Ohiogebied en die Illinoisland verskuif het. Dit was een van die ondraaglike wette wat aanleiding gegee het tot die uitbreek van die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog. In 1775 kon die inval in Quebec gestuit word. Tienduisende lojaliste het na die huidige Kanada gevlug. Met die Vrede van Parys in 1783 is die gebiede suid van die Groot Mere aan die Verenigde State afgestaan.
Om die lojaliste tevrede te stel het die Britse parlement in 1791 die grondwetlike reg goedgekeur, waarmee die Provinsie Quebec verdeel is in die Franstalige Neder-Kanada en die Engelstalige Opper-Kanada en aan albei kolonies 'n verkose parlement toegestaan het. Die spanninge tussen die Verenigde State en Groot-Brittanje het gelei tot die Anglo-Amerikaanse Oorlog wat van 1812 tot 1814 gewoed het, maar uiteindelik sonder resultaat geëindig het.
Soos in die aangrensende Opper-Kanada het Louis-Joseph Papineau en Robert Nelson in 1837 'n rebellebeweging gestig om die Britse koloniale heerskappy te beëindig (1837-rebellie). Die Britse Leër was aanvanklik heeltemal onvoorbereid, maar kon die opstand onderdruk. Na aanleiding van 'n verslag deur Lord Lambton, wie die oorsake van die rebellie ondersoek het, is in 1840 Neder- en Opper-Kanada verenig om die Provinsie Kanada te vorm. In 1848 het dit die reg op selfregering en die eerste demokraties verkose regering ontvang.
Kanadese provinsie
[wysig | wysig bron]In die 1860's het afgevaardigdes uit verskeie kolonies in Brits-Noord-Amerika oor 'n vereniging begin onderhandel. Op 1 Julie 1867 is met die Brits-Noord-Amerika-wet die Dominion Kanada gestig en die vorige Provinsie Kanada is in die provinsies Ontario (voorheen Opper-Kanada) en Quebec (voorheen Neder-Kanada) verdeel. Alhoewel Kanada in sy geheel meerendeels Engelssprekend was, het die Franstaliges in Quebec die meerderheid gevorm.
In 1870 het die Kanadese federale regering Rupert's Land van die Hudson's Bay Company gekoop en die Noordwestelike gebiede gestig. Oor die volgende dekades het die federale regering groot dele van hierdie gebiede aan bestaande provinsies afgestaan of nuwe provinsies geskep. In twee stappe kon Quebec sy gebied meer as verdriedubbel. Op 13 Junie 1898 het die eerste uitbreiding tot by die kus van Jamesbaai plaasgevind. 'n Tweede wet het op 15 Mei 1912 die Ungava-distrik in die noorde van die Labrador-skiereiland by die provinsie gevoeg. Op 11 Maart 1927 het die Britse Privy Council se regskomitee in 'n grensgeskil ten gunste van die destyds selfstandige Dominium Newfoundland beslis, waarmee Quebec 'n deel moes afstaan.
Die aanvanklik op die stad Montreal beperkte industrialisasie het in die laat 19de eeu ook na die res van die provinsie begin uitbrei. Daarmee gepaard gegaan het 'n vinnige verstedeliking van die provinsie, wat verband gehou het met 'n hoë geboortesyfer. Veral op die platteland het die Rooms-Katolieke Kerk 'n aansienlike invloed op die samelewing uitgeoefen en die onderwysstelsel oorheers, terwyl 'n klein Engelstalige elite die stedelike ekonomie oorheers het. Vroeg in die 20ste eeu het die Industriële Revolusie ook na die landelike gebiede begin versprei en dit was gebaseer op die verwerking van natuurlike hulpbronne.
Twee ideologiese strominge het oorheers: Aan die een kant die liberales wat die modernisering van ekonomiese en sosiale strukture geëis het en volgens hulle was beide ekonomiese groei en die uitbreiding van die onderwysstelsel die enigste manier om die provinsie na die toekoms te neem. Daarteenoor het konserwatiewe nasionaliste 'n isolasionistiese koers gebaseer op die waardes van Katolisisme en landelike tradisionalisme nagestreef.
Tot aan die einde van die 1950's was die Union nationale onder leiding van Maurice Duplessis gekant teen hervormings. Nadat in 1960 die Parti libéral du Québec onder Jean Lesage bewind oorgeneem het, het hulle egter hervormings ingestel wat die samelewing en Quebec se staatstelsel tydens die sogenaamde "stille rewolusie" (révolution tranquille) heeltemal gemoderniseer het. Die regering het onder die leuse Maître chez nous ("meester in sy eie huis") die invloed van die Rooms-Katolieke Kerk teruggestoot. Daarbenewens het hulle die energiemaatskappy Hydro-Québec genasionaliseer, wie se ontwikkeling van plaaslike energiereserwes die "grondslag vir deeglike industrialisasie" gelê het.[11]
Separatisme
[wysig | wysig bron]Die Stille Rewolusie het egter ook 'n nuwe nasionalisme teweeggebring wat nie meer op tradisionele waardes gegrond was nie. Verskeie separatistiese bewegings het ontstaan, waarvan sommiges militant was. Die Front de libération du Québec (FLQ) het tussen 1963 en 1970 meer as 200 bomaanvalle en bankrowe gepleeg met die doel om die provinsie in 'n Marxistiese staat te omskep. Die vlaag van terreur het uitgeloop op die Oktoberkrisis en die kortstondige instelling van 'n noodtoestand deur die federale regering.[11] Gevolglik is die FLQ verpletter.
Daarteenoor het die Parti Québécois onder René Lévesque Quebec vreedsaam na onafhanklikheid probeer neem. Van 1976 af het hulle vir die eerste keer die provinsiale regering gevorm. Reeds twee jaar vroeër het Frans die enigste amptelike taal geword, maar eers die Handves van die Franse taal het in 1977 Engels uit die alledaagse lewe verdring. Tydens die Quebec-onafhanklikheidsreferendum op 20 Mei 1980 het 59,6% van die stemgeregtigdes ook om ekonomiese redes onafhanklikheid verwerp.[12] Maar die provinsie het ook nooit die 1982-grondwet goedgekeur wat deur Pierre Trudeau geïnisieer is nie.
Die federale regering se pogings om Québec met die Meechmeer-ooreenkoms en die Charlottetown-ooreenkoms as 'n "afsonderlike samelewing" te erken, het in onderskeidelik 1989 en 1992 misluk. In 1994 het die Parti Québécois weer aan bewind gekom en 'n tweede onafhanklikheidsreferendum geïnisieer. Dit het in 1995 naelskraap misluk met 50,58% nee teenoor 49,42% ja.[13] Later het aan die lig gekom dat die Federaliste nege keer soveel geld aan die stemveldtog bestee het as die Separatiste, waaronder staatsgeld. Die federale regering het ook die referendum beïnvloed deur die aantal inburgerings voor die stemming te verhoog.[14] In 1998 het die Hooggeregshof van Kanada in Renvoi relatif à la sécession du Québec beslis dat 'n provinsie nie eensydig sy onafhanklikheid kan verklaar nie.
Op inisiatief van die konserwatiewe eerste minister Stephen Harper het die Kanadese Laerhuis op 27 November 2006 die Québécois as 'n "nasie binne 'n verenigde Kanada" erken. Volgens Harper bevraagteken dit nie Kanada se eenheid nie.[15][16]
Ekonomie
[wysig | wysig bron]
Die provinsie beskik oor 'n pos-moderne ekonomie wat 'n gemaklike handelsoorskot handhaaf. Ingevolge die vrye handel-ooreenkoms met die Verenigde State in 1987 het Quebec se uitvoere, waarvan sowat 85 persent vir die VSA-mark bestem is, aansienlik gestyg. In 2002 het Quebec produkte en dienste ter waarde van 83,4 miljard VSA-dollar ingevoer, terwyl sy uitvoere tot 92,2 miljard VSA-dollar gestyg het. Die bruto geografiese produk per capita was in 2002 27 601 VSA-dollar.
Die vallei van die Saint-Laurentrivier is 'n vrugbare landbougebied vir vrugte, groente en graan. Quebec is die belangrikste produsent en uitvoerder van esdoringstroop. Veeteelt is 'n verdere basis van die landbou.
Groot natuurlike hulpbronne en bloeiende nywerhede verseker dat die inwoners van Quebec tot die welvarendstes wêreldwyd behoort. Quebec se bosbou, waterkragsentrales, elektroniese, telekommunikasie, lug- en ruimtevaartnywerheid is beduidende uitvoerders, veral na die VSA.
Die hoëtegnologie-bedrywe in Montreal sluit lugvaartondernemings soos die straler-vervaardiger Bombardier, die stralerenjin-vervaardiger Pratt and Whitney en die vlugnabootser-vervaardiger CAE in. Hierdie wêreldbekende ondernemings en talle toeleweringsbedrywe maak van Quebec se lugvaartnywerheid die vierde grootste wêreldwyd.
Regering en politiek
[wysig | wysig bron]


Quebec se regeringstelsel is geskoei op die Britse Westminster-stelsel, met 'n eenkamerparlement, die Nasionale Vergadering van Quebec (Assemblée nationale du Québec). Die 125 afgevaardigdes word in 125 kiesafdelings volgens die meerderheidskiesstelsel verkies. Die voorsitter van dié party, wat die meeste setels in 'n verkiesing gewen het, word as eerste minister (premier ministre) aangewys, net soos die lede van die Ministersraad (kabinet).
Die vise-goewerneur mag die parlement na konsultasie met die eerste minister binne 'n bepaalde tydperk van maksimaal vyf jaar ontbind en 'n nuwe verkiesing uitskryf. Tot en met 1968 was daar 'n tweede kamer van die parlement, die Wetgewende Raad, met benoemde lede. Quebec was die laaste Kanadese provinsie wat sy tweede parlementskamer afgeskaf het.
Die amp van eerste minister word sedert 23 April 2014 deur Philippe Couillard beklee nadat sy Liberale Party (Parti libéral du Québec, PLQ) met 41,5 persent van die uitgebragte stemme 'n oorwinning in die provinsiale verkiesing behaal en sewentig setels in Quebec se parlement, die Nasionale Vergadering, het. Die vorige regering is tussen 2012 en 2014 deur die separatistiese Parti Québécois (PQ) met 54 setels in die parlement as 'n minderheidsregering gevorm.
Naas die Liberale Party is die sosiaal-demokratiese PQ met 30, die konserwatiewe Coalition Avenir Québec ("Koalisie Toekoms Quebec") met 22 en die links-alternatiewe Québec solidaire met drie setels in die Nasionale Vergadering verteenwoordig. Die huidige adjunkgoewerneur en verteenwoordiger van koning Charles III as staatshoof is Manon Jeannotte.
Volgens die Kanadese grondwet word Quebec met 75 setels in die Kanadese Laerhuis en 24 setels in die Senaat verteenwoordig. Die provinsiale verteenwoordigers is lede van partye wat net op federale vlak in die politieke lewe meeding, maar nie by die provinsiale politiek betrokke is nie.
Kookkuns
[wysig | wysig bron]
Naas sy natuurskoon en ryk kulturele erfenis is dit Quebec se gastronomiese tradisies wat van die provinsie 'n gewilde trekpleister vir Noord-Amerikaanse en oorsese fynproewers maak. Ondanks sterk Italiaanse, Asiatiese, Midde-Oosterse en Amerikaanse invloede is Quebec se eetgewoontes diep gewortel in die kookkuns van sy Franse moederland. Die 17de eeuse setlaars, wat hulle in die destydse Nieu-Frankryk gevestig het, het hul tradisionele kookgereedskap – kookpotte en -panne wat van gietyster gemaak is – saamgebring waarin eenvoudige plattelandse kos berei is. Hierdie tradisie is later ook deur Ierse immigrante gedeel.
Die lewe in 'n vreemde omgewing is vir die eerste setlaars verder bemoeilik deur Quebec se lang en bitter koue winters. Daar was baie monde om te voed, maar min kos beskikbaar. Die vroeë Kanadese het die voorkeur gegee aan kos met 'n hoë voedingswaarde, soos in Quebec se gunstelingdisse steeds weerspieël word. Die meeste gesinne het die tradisionele resepte van hul voorvaders bewaar om hulle aan nuwe generasies oor te dra.
So is tourtières en ragouts (bredies), pâtés (pasteie) en terrines, soupes (soos die soupe aux pois of ertjiessop), tartes (soos die tarte au sucre of suikertert) en galettes bo aan die lys – geregte wat hul oorsprong in die noordweste van Frankryk het en daar al sedert die 15de eeu voorgesit is. Dié gunstelingdisse word in Quebec steeds op feesdae en vir gesins- en kleingroepbyeenkomste berei.
Tourtières is die gewildste klaargemaakte kos wat dwarsdeur die jaar in winkels te koop aangebied word. Pâtés en terrines is 'n vaste bestanddeel van onthaaletes. 'n Groot verskeidenheid terte en ander gebak is in bakkerye te koop, met die tradisionele Kersfeeskoek bûche de Noël – met sjokolade-botterroom en versierings wat dit op 'n yule log laat lyk – as die kulinêre hoogtepunt van Kersaand.
Ander merkwaardige kookmetodes, wat hul oorsprong in 15de eeuse Frankryk het, is die gebruik van kruie en speserye soos kaneel en naeltjies vir vleisgeregte; die gebruik van gesoute kruie; vleisaftreksels wat van bene gekook word; die gebruik van brood en broodkrummels in baie resepte; die gewoonte om broodpoedin of Franse braaibrood van ou brood te berei; die gebruik van geroosterde meel as spesery en as verdikker; die gebruik van gedroogde groentes vir tradisionele sopdisse soos ertjiessop; die vermenging van vars en gedroogde vrugte in nageregte soos appel-en-rosyntjiestert en dadeltert; en die gebruik van heuning en neute as spesery in nageregte.[17]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ (fr) "Institut de la statistique du Québec: La population des régions administratives, des MRC et des municipalités du Québec en 2019" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 30 September 2020. Besoek op 30 September 2020.
- ↑ (fr) Hoogste Hof van Kanada – Opposisie Quebec verwysing na 'n resolusie om wysiging van die Grondwet in 1982 Geargiveer 5 Mei 2010 op Wayback Machine – "Ons moet erken dat die twee volke wat Kanada gestig het, gelykwaardig is, en dat Quebec binne die Kanadese Federasie 'n selfstandige samelewing vorm wat deur oor sy eie taal, kultuur, instellings en al die eienskappe van 'n afsonderlike nasionale gemeenskap beskik", vertaling van: « On devra reconnaître que les deux peuples qui ont fondé le Canada sont foncièrement égaux et que le Québec forme à l’intérieur de l’ensemble fédéral canadien une société distincte par la langue, la culture, les institutions et qui possède tous les attributs d’une communauté nationale distincte. »
- ↑ (en) Parliament of Canada: Hansard of 39th Parliament, 1st Session; No. 087. Routine Proceedings: The Québécois
- ↑ (en) "Origin of the names of Canada and its provinces and territories". Natural Resources Canada. 27 Maart 2020. Besoek op 18 April 2025.
- ↑ (en) Patricia O. Afable; Madison S. Beeler (1996). "Place Names". In Ives Goddard (red.). Languages. Handbook of North American Indians. Vol. 17. Smithsonian Institution. p. 191.
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link) - ↑ (en) "The birth of Quebec". CBC/Radio-Canada. 2001. Besoek op 18 April 2025.
- ↑ (en) (fr) "Statistique Canada/Statistics Canada, The Daily". 19 Desember 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Desember 2007. Besoek op 21 Desember 2007.
- ↑ (fr) Radio Canada, 15 April 2011: Québec souhaite ouvrir ses portes à 200 000 immigrants d'ici 2015
- ↑ (en) Patricia Afable, Madison Beeler: "Place Names", in Handbook of North American Indians. Band 17, bl. 191. William C. Sturtevant, Washington D.C. 1996.
- ↑ (en) "The birth of Quebec". CBC/Radio-Canada. 2001. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Junie 2003. Besoek op 11 Junie 2003.
- ↑ 11,0 11,1 (de) Martin Pabst. "Québec – selbstbewusste frankophone Nation in Kanada zwischen föderaler Partnerschaft und Souveränität". Österreichische Militärische Zeitschrift. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Augustus 2011. Besoek op 20 Augustus 2011.
- ↑ (en) R. Hudon, Dominique Millette, Maude-Emmanuelle Lambert (6 Maart 2017). "Québec Referendum (1980)". The Canadian Encyclopedia. Besoek op 18 April 2025.
{{cite web}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link) - ↑ (en) Gerald L. Gall, Dominique Millette, Maude-Emmanuelle Lambert (4 Maart 2015). "Québec Referendum (1995)". The Canadian Encyclopedia. Besoek op 18 April 2025.
{{cite web}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link) - ↑ (de) Martin Pabst: Québec – selbstbewusste frankophone Nation in Kanada zwischen föderaler Partnerschaft und Souveränität.
- ↑ (en) "House of Commons passes Quebec nation motion". CTV Television Network. 27 November 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Julie 2009. Besoek op 9 Julie 2009.
- ↑ (de) Christian Lammert, Boris Vormann (2015). "New Chances for Accommodation: Has Québécois Separatism Run its Course?" (PDF). Zeitschrift für Kanada-Studien. pp. 45–62. Besoek op 18 April 2025.
- ↑ (en) Julian Armstrong: Made in Quebec. A Culinary Journey. Kindle-uitgawe. HarperCollins e-books 2014, pos. 71
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Quebec. |
- Amptelike webtuistes
- Ensiklopediese inligting
- (en) "Quebec". Encyclopædia Britannica. Besoek op 18 April 2025.
- (en) "Quebec". The Canadian Encyclopedia. Besoek op 18 April 2025.
- Toerisme
- (en) Toerisme-inligting oor Quebec op Wikivoyage
- (en) Bonjour Québec
- Musiek
- (en) University of Washington – Canadian Studies Center: Québécois Music Geargiveer 15 Januarie 2020 op Wayback Machine
- Demografie en wetenskaplike genealogie
- (en) Discover Magazine, 24 Januarie 2011: The genomic heritage of French Canadians
- (en) CBC – Canada: The Story of Us: Most French Canadians are descended from these 800 women
![]() |
![]() |
![]() |
Labradorsee • ![]() ![]() |
![]() |
![]() ![]() |
![]() |
![]() | ||
![]() ![]() ![]() | ||||
![]() | ||||
![]() |
![]() |
![]() ![]() |